
SA se bruin gemeenskap word ergste geraak deur diabetes
Een uit elke vier volwassenes in die Wes-Kaapse bruin gemeenskap word moontlik deur tipe 2 diabetes geraak.
Dit is een van die bevindinge van 'n studie wat die voorkoms van tipe 2 diabetes onder die gemeenskap van Bellville-Suid in Kaapstad se noordelike voorstede ondersoek het.
"Hierdie bevolking het 'n baie hoë voorkoms van diabetes. Na die ouderdom van 40 het so te sê een uit elke vier individue [28.2%] óf diabetes, óf 'n hoë risiko om dit te ontwikkel," sê die studieleier, prof Rajiv Erasmus van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch. Die navorsing is in die South African Medial Journal gepubliseer en is aangepak in samewerking met die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, die Walter Sisulu Universiteit, en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.
"Die voorkomskoers van tipe 2 diabetes verskil tussen die rasgroepe in Suid-Afrika. Aanvanklik het mense gedink dat die Indieër-bevolking die hoogste koers van diabetes gehad het, maar hierdie bevindinge toon dat dit selfs meer algemeen voorkom onder die bruin bevolking," sê Erasmus.
Hy beklemtoon dat alhoewel dit voorkom of die bruin bevolking die ergste geraak word, daar 'n styging in die voorkomskoers van tipe 2 diabeter onder alle Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe was. Byvoorbeeld, daar word beraam dat diabetes nou een uit elke 10 swart Suid-Afrikaners raak, maar in die verlede het slegs een uit elke 20 individue in die groep diabetes ontwikkel.
Nog 'n kommerwekkende bevinding in die studie was dat meer as die helfte van die studie-deelenemers nie bewus was daarvan dat hulle diabetes gehad het nie.
"Dit is baie kommerwekkend, aangesien die langtermyn-komplikasies van diabetes die oë, hart, vel, bloedvate en niere kan aantas. Dit is onvermydelik dat die voorkoms van diabetes die alreeds hoë voorkoms van hipertensie en chroniese niersiekte in ons bevolking sal vererger, ekonomiese aktiwiteite kniehalter, en die perke van gesondheidsfasiliete beproef," waarsku Erasmus.
Vir die studie het navorsers 642 lukraak-geselekteerde deelnemers van die gemeenskap in Bellville-Suid getoets vir tipe 2 diabetes en ander risikofaktore vir die metaboliese sindroom – 'n groep risikofaktore (soos om oorgewig te wees, hoë bloeddruk en LDL of 'slegte' cholesterol te hê) wat jou risiko vir hartsiekte en ander gesondheidsprobleme verhoog. Alle respondente was 31 jaar of ouer.
In reaksie op die bevindinge van hierdie studie het die navorsers verskeie opvolg-studies van stapel gestuur om die oorsaak van die buitengewoon hoë voorkoms van diabetes onder hierdie bevolkingsgroep bloot te lê, en meer gebruikersvriendelike metodes van diagnose te toets wat die siftingsproses vir diabetes sal vergemaklik. Die navorsers stel voor dat 'n veldtog genaamd, "Ken jou diabetes-status", van stapel gestuur word om aktief mense te toets vir diabetes.
Foto: Pixabay