
Rektor wens navorsers geluk
“Baie geluk aan julle almal. Ek is baie trots op julle en dit is vir my ʼn plesier om saam met julle te werk. Dit maak my veral trots dat ons navorsers so produktief is."
Met hierdie woorde het die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), prof Wim de Villiers, Donderdag (31 Augustus 2017) ʼn groot groep navorsers wat in 2017 nuwe graderings van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang het gelukgewens. Hulle het graderings ontvang vir navorsingsuitnemendheid in hul onderskeie velde.
Altesame 81 navorsers het in 2017 nuwe graderings ontvang en dit bring die US se getal gegradeerde navorsers op 430 te staan. Twaalf hiervan is A-gegradeerde navorsers wat as wêreldleiers op hul gebied beskou word. Dit plaas die US onder die top drie hoër onderwysinstellings in die land.
Die NNS gradeer navorsers in vyf kategorieë naamliks navorsers wat as wêreldleiers op hul gebied beskou word (kategorie A); navorsers wat aansienlike internasionale erkenning onder hul eweknieë geniet (kategorie B); navorsers wat as gevestig in hul vakgebied beskou word (kategorie C); jong navorsers met buitengewone potensiaal om waarskynlik toekomstige internasionale leiers op hul gebied te word (kategorie P); en jong navorsers wat die potensiaal het om hulle binne vyf jaar na evaluasie as wetenskaplikes te vestig.
Die NNS-graderingstelsel is 'n stelsel waarvolgens individue wat die hoogste standaarde van navorsing handhaaf, sowel as diegene wat potensiaal as navorsers toon, deur 'n uitgebreide netwerk van hul Suid-Afrikaanse en internasionale eweknieë erken word. Die graderings is gegrond op die gehalte en impak van onlangse navorsingsuitsette (oor 'n tydperk van agt jaar).
Van die voordele wat graderings inhou is dat dit ʼn nasionale aanwyser van uitnemendheid is en navorsers ook die geleentheid bied om vir NNS-aansporingsbefondsing aansoek te doen.
Graderings is geldig vir 'n tydperk van ses jaar. Die volgende ronde van graderings open in September 2017 en sluit op 15 Februarie 2018.
- Vir meer inligting oor die US se interne proses of om meer te wete te kom oor NNS-graderings, kontak vir Maryke Hunter-Hüsselmann by [email protected] of Aasima Gaffoor by [email protected] in die Afdeling Navorsingsontwikkeling.