
Rektor vier een jaar sedert inhuldiging
Vandag (29 April 2016) presies ʼn jaar gelede is prof Wim de Villiers ingehuldig as rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US).
Dit was beslis ʼn uitdagende tydperk, "maar ek sou dit nie anders wou gehad het nie," sê hy in ʼn pas uitgereikte video waarin hy terugkyk op sy eerste 12 maande in die tuig.
"Die US is ʼn uitstekende instelling wat wonderlike werk doen, en ek is bevoorreg om hier betrokke te wees. Alle eer aan ons personeellede en studente – en ander lede van die groter Matie-familie."
Onder die hoogtepunte wat prof De Villiers uitlig, tel die rekordaantal kwalifikasies wat die US in 2015 toegeken het, insluitend 266 doktorsgrade, en die feit dat die US nogmaals aangewys is as die universiteit met die meeste navorsingsuitsette per capita in die land.
"Dit beteken egter nie alles gaan voor die wind en ons het geen probleme nie. Ja, ons het talle komplekse en veeleisende uitdagings, maar ek dink ons maak goeie vordering."
- Kliek hier om na die video te kyk op die US se YouTube-kanaal. Prof De Villiers is tans in Duitsland vir ʼn geskeduleerde tweejaarlikse vergadering van die AC21 se Internasionale Forum, waarvan die US lid is. Hy het vroeër vandeesweek onder meer ook in Londen en Berlyn alumni-byeenkomste gehou. Hy is weer op 4 Mei terug op kampus.