
Rektor- en Uitvoerende Burgemeestersforum verken sinergie oor innovasie in Stellenbosch
Die Forum van die Rektor en Uitvoerende Burgemeester het onlangs samesprekings gevoer om Stellenbosch as die Innovasie hoofstad van Suid-Afrika te bevorder. Dit was die Forum se derde vergadering sedert Prof Wim de Villiers verlede jaar as Rektor van Universiteit Stellenbosch (US) ingehuldig is.
Die Forum bestaan uit De Villiers, Raadsheer Conrad Sidego, Uitvoerende Burgemeester van Stellenbosch, asook akademici en amptenare van die Universiteit en Munisipaliteit. Fokusgebiede sluit in 'n stedelike ontwikkelingstrategie, veiligheid, asook die bevordering van Stellenbosch as Innovasie hoofstad van Suid-Afrika.
Subkomitees is gestig om voortaan gereeld te vergader om oplossings vir dié uitdagings na te streef. Een van die doelwitte van die Forum is dat akademici en amptenare hul kennis deel om projekte met sukses aan te pak.
"Stellenbosch is die mees ongelyke dorp in Suid-Afrika, selfs die wêreld. Ons het egter groot menslike hulpbronne in ons Munisipaliteit, die sakesektor en die Universiteit. Dit kan gebruik word om baie van ons uitdagings deur innoverende denke en praktyke aan te spreek," het Sidego gesê.
"Innovasie rus op twee pilare. Ons het tegniese innovasie nodig, maar ook sosiale innovasie om die vele sosio-ekonomiese uitdagings aan te spreek. Dit sluit dwelm- en alkoholmisbruik, misdaad en die hoë vlakke van werkloosheid in. Innovasie gaan oor hoe ons dink," het hy bygevoeg.
De Villiers het gesê die Forum bied die gulde geleentheid om die kennis en tegniese vaardighede binne die Universiteit en die dorp te gebruik om 'n verskil aan die gemeenskap te kan maak.
Prof Mark Swilling, uitgelese professor en Program Direkteur: Volhoubare Ontwikkeling by die US se Skool vir Openbare Leierskap, het gesê akademici het baie hulpbronne tot hul beskikking om die Munisipaliteit te help. Hy het ook die behoefte aan 'n webblad uitgelig waar die Munisipaliteit en Universiteit inligting kan deel oor innoverende projekte in en om Stellenbosch.
Dr Jerome Slamat, Uitvoerende Bestuurder: Rektoraat, het gesê 'n belangrike bydrae van die Universiteit tot plaaslike ekonomiese ontwikkeling is om die plaaslike gemeenskap deur opvoeding op te hef.
Prof Nico Koopman, waarnemende Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het gesê dit is belangrik om die gesprek voort te sit om 'n verwelkomende kultuur op kampus en in die res van die dorp te bevorder. Hierop het Sidego gesê die munisipaliteit het dalk nie genoeg gedoen om transformasie doeltreffend aan te spreek nie.
"Hierdie Forum moet 'n vennootskap wees waarvoor die bou van sosiale kohesie onontbeerlik is," het hy gesê.
Mnr Widmark Moses, Bestuurder: Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling by die Stellenbosch Munisipaliteit, het versoek dat die Forum nie net op maatskaplike kwessies fokus nie, maar ook op ekonomiese ontwikkeling.