
Reëlings vir 2022
Cofa apha ukuze ufumane isiXhosa *
-----------------------------------------
Beste lid van ons Universiteit Stellenbosch-gemeenskap
Ek bied graag terugvoer oor die mees onlangse vergadering van ons Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) in hierdie tyd van Covid-19. Die IKBV het op Woensdag 26 Januarie 2022 byeengekom.
INENTING
Ons het 'n verslag ontvang oor vordering met 'n moontlike institusionele reël oor inenting teen koronavirussiekte by die Universiteit Stellenbosch (US).
'n Risikobeoordeling is verlede jaar onderneem om die behoefte aan 'n Covid-19-inentingsreël te bepaal op grond van ons instelling se bedryfsvereistes en die risiko van virusoordrag. Daarna het ons 'n verklaring van voorneme uitgereik, gevolg deur 'n konsepreël. Ons het op 3 Desember 2021 met openbare oorlegpleging begin, wat tot 15 Januarie 2022 geduur het.
Dankie aan almal wat deelgeneem het. Ons het meer as 1 200 bydraes ontvang, wat elk sorgvuldig oorweeg sal word. Sodra ons 'n reaksieverslag opgestel het, sal ons intern oorleg pleeg. Die laaste sê berus by die US Raad. Ons beplan om 'n aanbeveling voor te lê by die eerste Raadsvergadering van die jaar, wat op 11 April plaasvind – óf by 'n spesiale vroeër vergadering, indien nodig.
Intussen moedig ons almal steeds aan om hulle teen Covid-19 te laat inent. Ons Mediese Advieskomitee beveel inenting aan, want dit werk ernstige siekte en hospitaalopname teë. Ook die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) raai ons almal aan om die entstof te ontvang om (i) onsself te beskerm, (ii) ander te beskerm, (iii) nuwe variante te voorkom, (iv) die oordragketting te verbreek, en (iv) hospitaalbeddens beskikbaar te stel en gesondheidswerkers veilig te hou.
Ons universiteit het ʼn inentingsentrum by die Lentelus-sportterrein in Hammanshandweg, Stellenbosch, waar personeellede, studente en lede van die publiek hul inentings (waaronder versterkingsdosisse) gratis kan ontvang. Om ons universiteitsgemeenskap selfs makliker toegang te bied, het ons 'n opskietsentrum vir inenting by die Jan Mouton Leersentrum (tweede verdieping) op die Stellenboschkampus ingerig. Die opskietfasiliteit sal van 31 Januarie tot 11 Februarie oop wees en die Lentelus-fasiliteit dan gesluit.
Benewens inenting, beveel die WGO aan dat ons ook steeds die volgende doen om die verspreiding van die koronavirus te vertraag en uiteindelik te stop:
- Handhaaf 'n veilige afstand van ander en vermy skares.
- Dra 'n masker wat behoorlik pas en jou mond én neus bedek.
- Wanneer jy saam met ander in 'n vertrek is, maak vensters en deure oop om goeie ventilasie te verseker.
- Was gereeld jou hande.
- Hoes of nies in die waai van jou arm.
EERSTE SEMESTER
Registrasie is aan die gang, sommige studente het reeds met klas begin, en die res volg teen 14 Februarie. Ons is gereed vir nóg 'n suksesvolle akademiese jaar.
Ons is en bly 'n residensiële universiteit, en ons is van plan om so gou moontlik terug te keer na onderrig van aangesig tot aangesig. Nietemin is ons steeds midde-in 'n pandemie. Die nasionale ramptoestand is nog nie opgehef nie, en daar is steeds beperkings op die getal mense wat op een slag in klaskamers en ander lokale mag wees.
Wat onderrig en leer betref, het ons dus besluit om met die ARTLA-metode voort te gaan, d.w.s. afstandsonderrig en -leer, wat met soveel moontlik kontaktyd aangevul word. Ons sal hierdie metode vir die hele eerste semester volg. Assessering sal in kontakvorm en onder toesig op kampus plaasvind.
Om studente die beste moontlike kampuservaring te bied, sal ons alle klaskamers en koshuise tot die maksimum toelaatbare kapasiteit benut. Nes in 2020 en 2021 sal fakulteite besonderhede oor die onderrigmetode in elke module op hul onderskeie webblaaie publiseer. Toegang tot hierdie inligting kan ook via spesifieke skakels op ons Covid-19-webblad verkry word.
TERUGKEER NA DIE WERKPLEK
Die meeste van ons studente sal op kampus wees. Om hulle so goed moontlik by te staan, word daar van personeellede verwag om na hul kampuswerkplekke terug te keer – na gelang van bedryfsbehoeftes in hulle omgewing én onderworpe aan Covid-19-regulasies en -protokolle. Dít is van toepassing op sowel akademiese personeel as diegene in ons professionele akademiese en administratiewe steundienste- (PASD-)afdelings. Raadpleeg gerus die riglyne hieroor wat op 17 November 2021 uitgereik is en steeds geld.
Die Rektoraat het ook bevestig dat die Riglyne vir die Bestuur van Werksure, wat in November 2018 aanvaar is, steeds van toepassing is. Hierdie riglyne maak voorsiening vir buigsame werksreëlings.
SAAM VORENTOE
Covid-19 bly 'n uitdaging, maar ek is oortuig dat ons dit sal oorkom as ons so veerkragtig, aanpasbaar, vindingryk en toegewyd bly soos ons die afgelope twee jaar was. Dankie dat jy vasbyt en deurdruk.
Vir verdere inligting, raadpleeg gerus die Universiteit se spesiale Covid-19-webblad.
Bly veilig en sien om na jouself en ander.
Prof Stan du Plessis Voorsitter: IKBV
* Die US se Taalbeleid, wat in Desember 2021 aanvaar is, bepaal: “Alle amptelike interne institusionele kommunikasie sal in Afrikaans, Engels en isiXhosa wees” – d.w.s. “alle kommunikasie van die Kanselier, Raad, Senaat, die Rektor, ’n Viserektor, die Bedryfshoof of die Registrateur aan die hele Universiteit”.