Skip to main content
R1,5 miljoen vir navorsingsprojek om volhoubare bestaansgeleenthede te skep

R1,5 miljoen vir navorsingsprojek om volhoubare bestaansgeleenthede te skep

Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
07 Januarie 2016

'n Nuwe projek in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe wat daarop toegespits is om hongersnood en armoede te verminder, landbouontwikkeling te verhoog, wanvoeding die hoof te bied en tot vaardigheidsontwikkeling by te dra, het 'n hupstoot van R1,5 miljoen van die WesBank-fonds ontvang.

Die projek genaamd FARMNET ("Farmer market networks – creating sustainable viable livelihoods") sal met boere saamwerk wat van bestaansboerdery na markdeelname wil oorskakel. Dit sal kennisproduksie en die ontwikkeling van menslike kapitaal op die gebied van voedselsekerheid in Suid-Afrika bevorder.

Die Oos-Kaap, Noordwes, Limpopo en die Wes-Kaap, in samewerking met streeksinstellings, sal aan dié drie jaar lange inisiatief deelneem wat in Oktober 2015 van stapel gestuur is.

"FARMNET sal die huidige voedselstelsel bestudeer om beter te verstaan waar daar transformasiepotensiaal is. Die projek sal dus aanvanklik 'n stelselmatige beoordeling van beleide, praktyke en die resultate van vorige stelsels behels, waarop die dinkskrum en die ontwerpproses dan gegrond sal word. 

"Bestaande kleinskaalboerenetwerke, landbouontwikkelingsbeamptes van die regering sowel as die verskillende provinsies se taakgroepe oor voedselsekerheid sal geraadpleeg word," verduidelik me Julia Harper, bestuurder van die Voedselsekerheidsinisiatief aan die US.

Harper en haar kollegas wat aan die projek sal werk, verwelkom die R1,5 miljoen en sê dit sal hulle in staat stel om belanghebbendes byeen te roep, wat noodsaaklik is om die doelwitte van die projek te verwesenlik.

FARMNET sal ten nouste saamwerk met 'n ander universiteitsprojek genaamd die Suider-Afrikaanse Voedsellaboratorium, wat hom daarop toelê om diverse groepe in die voedselstelsel byeen te bring om geleenthede vir transformasie te bepaal en te ontwikkel.

En watter impak sal hierdie navorsing op die groter landbouprentjie hê? Volgens Harper is die voedselstelsel 'n konsep wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) voorkom. Dit is 'n kruisdissiplinêre konstruk wat tradisionele én hipermoderne kennis op die afsonderlike gebiede van voedselproduksie, -berging, -verwerking, -vervoer, -kleinhandel, -voedingswaarde en -gesondheid inwin en beoordeel.

"Die NOP vereis bewysgegronde modelle om die ekologiese, ekonomiese en maatskaplike lewenskragtigheid van die voedselstelsel te beskerm. Met die klem op die verband tussen landbou (wat water en energie insluit), voedsel en voeding, sal die konsep en modelle van FARMNET op innoverende navorsing oor bestaande en alternatiewe voedselstelsels berus. Tesame met beter politieke en ekonomiese bestuur, sal hierdie FARMNET-modelle toegang tot veilige, gesonde en voedsame kos vir die hele bevolking verbeter," voeg sy by.

Die NOP se visie vir 2030 stel ook in die vooruitsig dat 'n derde van alle vars produkte wat in Suid-Afrika verbruik word, deur kleinskaalboere verbou sal word. Volgens mev Kele Mazwai, voorsitter van die WesBank-fonds, is hulle verbind daartoe om langertermynsteun te verleen om sodoende voedselprodusente in die gemeenskap te help bemagtig om volhoubare bestaansgeleenthede te skep. "'n Volhoubare bestaan is slegs moontlik met billike marktoegang, en die Fonds glo sodanige toegang kan heel moontlik deur verbeteringe aan ons huidige nasionale voedselstelsel teweeggebring word."