Skip to main content
Protesaksie op Stellenbosch-kampus

Protesaksie op Stellenbosch-kampus

Corporate Marketing/Korporatiewe Bemarking
02 November 2016

Groepe protesteerders  (ongeveer 70 in totaal) het vandag op die Stellenbosch-kampus byeengekom. Inligting tot die Universiteit se beskikking is dat die meeste lede van die groep nie US-studente is nie, maar van ander universiteite in die Wes-Kaap.

Net voor die aanvang van die middag-eksamens, het die groepe na die Opvoedkunde-gebou (GG Cillie) beweeg en probeer om toegang tot die gebou te verkry. Hulle is egter deur die Openbare Orde Polisie en sekuriteitspersoneel gekeer.

ʼn Handjie vol US-studente wat in die gebou moes eksamen skryf het nie toegang tot die gebou verkry voordat dit gesluit moes word. Geen verdere ontwrigting het vanmiddag plaasgevind nie.

Die groep het vir die grootste deel van die middag voor die gebou gesit en later na die Kruiskerk op die hoek van Victoria- en Ryneveldstraat geskuif. Die groep het vroegaand uiteengegaan.

Die Bestuur is steeds verbind tot die voltooiing van die akademiese jaar. Gebeurlikheidsplanne en sekuriteitsmaatreëls sal in plek bly vir die duur van die eksamen en die situasie op die kampus word deurlopend gemonitor. ʼn Groot aantal sekuriteitspersoneel is tans op die kampus ontplooi.

Studente wat nie ʼn eksamenlokaal as gevolg van protesaksie kan binnegaan nie, word versoek om in die omgewing van die lokaal te bly en tel 021 808 2333 te skakel vir hulp en alternatiewe reëlings.

Die Universiteit het vanmiddag beraders beskikbaar gestel vir studente wat voel hulle is deur die gebeure getraumatiseer. Die Universiteit se Krisisdiens kan gekontak word by 0825570880 en gereelde opdaterings oor die situasie by die Universiteit word op die webtuiste gepubliseer (skakel na bladsy).

Brand in anneks by Kweekskool

Die Universiteit is vanmiddag van ʼn brand by ʼn nie-US, losstaande gebou langs die Kweekskool (Fakulteit Teologie) in kennis gestel. Die nooddienste is gekontak en die vuur is geblus. Die oorsaak van die brand is nog nie vasgestel nie en niemand is in die voorval beseer nie.