
PRONTAK: herontwerp vir 2019
PRONTAK (Opleidingsprogram vir Akademiese Personeel aan die Universiteit)
Die rasioneel van die PRONTAK-program is die behoefte om nuwe personeellede in die Onderrig- en Leer-kultuur en -praktyke aan die US in te lyf, op sowel institusionele as fakulteitsvlak. In 'n poging om die PRONTAK-program beter te belyn met die institusionele konteks wat uit die mees onlangse amptelike US-dokumentasie voortvloei, word 'n nuwe PRONTAK-model in 2019 geïmplementeer. Hierdie hersiening van PRONTAK is in pas met die doel wat in die hersiene Onderrig- en Leer (O&L)-beleid vervat word, naamlik die bevordering van die professionalisering van akademici in hul onderrigrol, asook die akademieskap van hul onderrigpraktyk.
Die hersiene O&L-beleid bepaal ook dat onderrigpraktyk saamgestel word uit 'n mengsel van verskeie leweringsmetodes, wat van aangesig-tot-aangesig tot ten volle aanlyn kan wissel. Die belyning van PRONTAK met die skuif in 'onderwysparadigmas' (US Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019-2024) en die beoogde herontwerp van PRONTAK behels 'n gemengdeleer-benadering sodat dosente die instaatstellende en beperkende aspekte van so 'n leeromgewing kan ervaar.
Die nuwe PRONTAK-model is 'n gids vir dosente op 'n refleksiewe reis met hul eie onderrigspad langs en via 'n proses van selfverkenning as onderwysers, om 'n eie onderrigfilosofie te formuleer en uiteindelik 'n onderrigportefeulje saam te stel. PRONTAK 2019 behels sewe fases oor sewe maande (April tot Oktober). Die fases sluit in aangesig-tot-aangesig- en aanlyn sessies, wat binne en oor fakulteite heen aangebied word en op refleksiewe, kontekstuele en akademiese onderrig en leer gerig is. Adviseurs van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) fasiliteer die proses en is beskikbaar vir hulp met al hierdie fases. Groepwerk en eweknie-terugvoer vorm deel van die ontwerp.
Die volgende ontwerpbeginsels onderlê PRONTAK:
· Refleksie: oor eie bestaan en om 'n refleksiewe praktisyn te word;· Kontekstualisering: van onderrig- en leerbeginsels in module-ontwerp;· Skakeling: met ander kundiges om 'n professionele netwerk te skep;· Betrokkenheid: om onderlinge steun in 'n gemeenskap van eweknieë te skep;· Samewerking: met eweknieë om module-ontwerp te verfyn;· Deel: en ontvangs van eweknie-terugvoer, asook reaksie daarop, om professionele groei te verbeter.
Die sewe fases van PRONTAK:
1. Inventaris van onderrigperspektiewe – Individuele fase – AprilDeelnemers vul 'n aanlyn vraelys in om hul oriëntasie ten opsigte van onderrig te bepaal. Dit word opgevolg met persoonlike refleksietake op SUNLearn.
2. Die storiebord van u module – Intrafakulteitsfase – April tot MeiDeelnemers pak die onderrig, leer en assessering van hul eie modules op 'n visuele manier uit. Dit word in fakulteite en aanlyn gedoen. Deelnemers lewer aanlyn kommentaar op mekaar se storieborde en ontmoet die SOL-adviseurs in die fakulteite om oor die proses te reflekteer en dit te bespreek.
3. Die ontwerp van leergeleenthede – Interfakulteit – 22 Mei by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS)Deelnemers bespreek hoe studente leer en hoe leergeleenthede ontwerp moet word. Modules word ondersoek en leergeleenthede ontwerp om probleemareas te kan aanspreek.
4. Die bloudruk van u module – Individueel – Julie tot SeptemberGedurende hierdie fase skryf die deelnemers 'n visie vir hul modules, sowel in die fakulteite as aanlyn. Die deelnemers kry toegang tot elektroniese hulpbronne en uitkomstes, assessering, konstruktiewe belyning en drumpelkonsepte ten einde 'n visie vir hul module te help skep.
5. Onderrig- en leerkonteks – Interfakulteit – 9 September STIASDie sessies fokus op hoe konteks (dissipline, departement, fakulteit, instelling, nasionaal en internasionaal) Onderrig en Leer beïnvloed. Die US se institusionele dokumente vorm die ruggraat van die sessies. 6. Ontwerp vir leer (OvL) – Intrafakulteit – Augustus tot OktoberDie deelnemers kry die geleentheid om aan die herontwerp van 'n aspek van hulle modules mee te werk, dit tydens 'n klas te implementeer, en terugvoer van studente oor die leergeleentheid te bekom. Hierdie fase kulmineer in die ontwerp van 'n plakkaat.
7. Plakkaataanbieding – Vakkundigheid van Onderrig en Leer (VvOL)-konferensie – OktoberDie deelnemers woon die jaarlikse VvOL-konferensie by en bied hulle bevindinge oor fase 6 as 'n plakkaataanbieding by die konferensie aan.
Deelname aan 'n opsionele fase ná Oktober beteken die PRONTAK-deelnemers kan die samestelling van hul onderrigportefeuljes finaliseer om op grond van hul onderrig vir 'n US-onderrigtoekenning of vir bevordering aansoek te doen.
Die nuwe PRONTAK-model omvat assessering wat dit moontlik maak om die model as 'n amptelike US-kortkursus te registreer.
Kontak asb die SOL adviseur in jou fakulteit vir verdere inligting.