Skip to main content
Projek Zero-inisiatief ontvang R6.2 miljoen van BANKSETA

Projek Zero-inisiatief ontvang R6.2 miljoen van BANKSETA

Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
09 Februarie 2018

Die Projek Zero-inisiatief van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) het finansiële steun ter waarde van R6.2 miljoen van die Bankwese-onderwys-en-opleidingsowerheid (BANKSETA) ontvang.

Dit is die tweede belegging van BANKSETA nadat R2.3 miljoen in 2017 toegeken is. Die 2017-toekenning het die deure van hoër onderwys vir 20 talentvolle studente oopgemaak en in 2018 sal altesaam 40 studente baat vind.

BANKSETA is 'n statutêre liggaam gevestig deur die Wet op Vaardigheidsontwikkeling van 1998 om sy belanghebbendes in staat te stel om die nasionale en globale posisie van die bank- en mikrofinansiering sektor te bevorder. BANKSETA bevorder, soos gelei deur sy mandaat, billike indiensneming en breëbasis-swart ekonomiese bemagtiging deur vaardigheidsontwikkeling en dan ook die ontwikkeling van mense deur middel van vennootskappe, verligting van werkloosheid wat tot verandering sal lei en sodoende 'n blinker toekoms sal skep.

Die Projek Zero-inisiatief se doelwit is om die koste om aan die US te studeer vir talentvolle studente tot nul te verminder. Projek Zero-beurse, tesame met die Universiteit se werwing- en merietebeurse, dek dan die student se hele universiteitsrekening. Die beursaanbieding word op grond van akademiese meriete aan BSI-studente (bruin, swart en Indiër) gemaak, waarvan die helfte uit gemeenskappe met die swakste sosioekonomiese status kom. Slegs top akademiese studente kwalifiseer daarvoor. Die Fakulteit werk onder meer nou saam met die Rachel's Angels-projek – 'n mentorskapprogram in 25 vennootskole – om potensiële beursontvangers te identifiseer. Die eerste kohort Projek Zero-beursontvangers het hul voorgraadse reis in Januarie 2016 begin.

"Die Universiteit Stellenbosch is R 5 844 120 00 toegestaan vir die befondsingsondersteuning van 40 begunstigdes wat ooreenstem met Projek Zero se keuringskriteria," het mnr Similo Dlamini, Bestuurder van Werkgeïntegreerde Leer by BANKSETA, gesê.

'n Verdere R 292 206 00 is toegeken om seker te maak dat die US die ideale ondersteuning kan bied. "Die ondersteuningsprogram wat deur Project Zero aangebied word, dek nie net befondsingsbehoeftes nie, maar ook akademiese, loopbaanontwikkeling, leierskap, mentorskap, lewensvaardigheidsopleiding, oriënteringsessies en psigososiale ondersteuning. Om die Universiteit in hierdie verband te ondersteun, het BANKSETA addisionele fondse vrygestel vir administratiewe koste," het Dlamini verduidelik.

Op die web: