
Prof Jonathan Jansen: 'n aktivis vir uitnemendheid
Nie baie A1-geëvalueerde akademici kan onder hul uitsette en aanhalings lys dat hul twiets ter ondersteuning van Springbok-rugby in koerante aangehaal is nie. Maar so is die aard en openbare aanhang van prof Jonathan Jansen, buitengewone professor in onderwys aan die Universiteit Stellenbosch (US) en president van die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika.
Vroeër vanjaar het die 65-jarige denkleier oor Suid-Afrikaanse onderwys en die land as geheel sy tweede A-evaluering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang. Die eerste het hy ontvang terwyl hy nog rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UVS) was, 'n pos wat hy van 2009 tot 2016 beklee het. Hy het in 2017 by die US aangesluit.
Onder dié voormalige wetenskaponderwyser se vele toekennings is eregrade van universiteite in Skotland, die VSA en Suid-Afrika, die Education Africa Lifetime-toekenning en Stanford-universiteit se eerste Alumni-uitnemendheidstoekenning. Hy is 'n verkose genoot van die Internasionale Akademie vir Onderwys, en het in 2021 die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing en Universiteite Suid-Afrika se Goue Medalje ontvang.
ansen is egter meer trots op die populêre en akademiese boeke en artikels wat hy geskryf het, op die jong akademici wat hy gementor het, op kontak met sy Twitter- en Facebook-volgelinge, en die afgelope dekade om lesers te betrek deur sy weeklikse opiniestuk in The Times en ander Suid-Afrikaanse koerante.
Hierdie motiveringspreker wat nie doekies omdraai nie, reken dat hy meer plaaslike skole as die meeste politici besoek het. Hy het die afgelope maande byvoorbeeld aktuariële gegradueerdes en 'n kerkgroep in Kaapstad toegespreek en gepraat by die 200ste jaar-vieringe van Muir College, die Oos-Kaap en Suid-Afrika se oudste seunskool.
Sy onlangse boodskap aan bywoners van die Internasionale Chemie Onderwyskonferensie was baie duidelik: "Onderrig met houding, leer vir betekenis en leer vir verandering."
Akademiese aktivis
Hierdie aktivis vir akademiese uitnemendheid en vir 'n beter Suid-Afrika neem sy “burgerlike plig" as akademikus ernstig op.
Hy moes egter van die dikste velle in die Suid-Afrikaanse akademie ontwikkel, want hy skroom nie vir kritiek of om in die media te sê hoe hy dinge sien nie.
As jy na media-opskrifte kyk, is hy 'n "jy óf hou van hom óf haat hom" soort ou. Jansen sê egter hy is 'n begryper eerder as iemand wat dinge roer, en word gedryf deur die behoefte om komplekse aspekte van die wetenskap en die samelewing te verstaan.
Maar, om een van sy eie gunsteling frases te gebruik: "Hier is die ding..."
Ten spyte daarvan dat hy een van die mees sigbare en uitgesproke akademici in Suid-Afrika is, wil Jansen nie hê mense moet hom onthou nie. Geensins nie.
“Ek wil hê hulle moet die mense onthou in wie se lewens ek 'n verskil gemaak het. As `n mens na die groter prentjie kyk, is ek irrelevant vir hierdie wêreld.
“My oorlede ma het altyd oorgeskakel na haar jeugtaal van Afrikaans as sy jou met 'n bietjie mooi wysheid wou los. Sy sou byvoorbeeld sê: 'Dis alles net die genade'," reflekteer die professor wat hom verlustig in sy liefde vir tale.
Vorming van die toekoms
As jy vra om homself te beskryf, doen hy dit in minder karakters as wat 'n twiet toelaat: “Ek is absoluut passievol oor onderrig en passievol daaroor om net die wêreld waarin ek leef beter te maak vir ander. Dis dit."
Dit doen hy sedert hy sy BSc-studie aan die Universiteit van Wes-Kaap voltooi het en sy eerste onderwyspos in Vredenburg in die 1970's, en daaropvolgende poste soos onderwysdekaan aan die Universiteit van Durban-Westville (nou `n kampus aan die Universiteit van Kwazulu-Natal) en die Universiteit van Pretoria.
Om ander te ondersteun, aan te spoor en uit te daag om te groei, is fundamenteel tot sy DNA. Soos met sy eie twee kinders, geniet hy dit om jonger akademici te sien groei, en om hulle te help om hul eie persoonlike en intellektuele waarde te besef.
Vir hierdie doel verskaf sy leiding en onderrig aan die eerste twee kohorte van Suid-Afrika se Toekomstige Professore-program, gehuisves aan die US, groot vreugde. Dit is gegrond op 'n konsep wat Jansen as rektor van die UVS aangewakker het. Dit versterk en berei senior lektor-ekwivalente akademici voor om hul posisies in die professoraat op te neem.
“Al wat ons doen is om baie slim mense na die boonste vlakke van die akademiese leer te neem. En ek kry die opwinding, die vreugde, om te sien hoe senior dosente in 26 openbare universiteite medeprofessore en professore word. Weet jy watter gevoel, watter vreugde dit in 'n mens se lewe bring?"
Jansen, wat onlangs sy tweede kleinkind verwelkom het, sê een manier waarop ouers kan weet dat hulle hul kinders goed grootgemaak het, is "as hulle beter as jy word". “Dan weet jy dat jy jou werk gedoen het."
Intellektuele raaisels
Ander het ook sy eie lewe help vorm, soos sielkundige prof Chabani Manganyi, 'n gewaardeerde mentor tydens sy tyd aan die Universiteit van Pretoria.
“Hy het eendag gesê: 'Jy weet JJ, jou probleem is jy word kwaad voor jy dink'. Sedert daardie dag sal ek selfs die ergste, ontstellende probleem in 'n intellektuele legkaart verander."
Een so 'n voorbeeld was sy bekroonde boek, Knowledge in the blood, oor hoe jong wit Afrikaanssprekende jeug 'n verlede kom omarm waarvan hulle nooit deel was nie. Hy het dit geskryf terwyl hy as UV-rektor gedien het.
“Die dag wat ek ophou skryf, is die dag wat ek ophou asemhaal. Die dag wat ek ophou dink, is die dag wat ek ophou bestaan," sê dié ywerige sportliefhebber vir wie vyf tot ses uur per dag skryf die beste vorm van ontspanning is.
"Om nuwe probleme op te los om deur te dink en te skryf, voel nie soos werk nie."
“Ek haat Vrydae en ek is mal oor Maandae. Ek het lankal opgehou om te werk. Ek geniet dit absoluut, en sal dit doen tot die dag wat ek sterf. Want ek is lief vir die lewe van die verstand.
Die luukse om genoeg tyd te hê om te dink, is iets wat hy beskerm sedert hy by die US aangesluit het. Dit is 'n luukse wat hy verdien het deur die laste van universiteitsbestuur te dra gedurende onstuimige jare in Suid-Afrika, en as lid van 'n lang lys direksies, komitees, adviespanele en redaksionele spanne.
Boeke
Jansen probeer om ten minste een akademiese en een populêre boek per jaar te skryf, dikwels in samewerking met kollegas of oudstudente. Vanjaar (2022) het hy reeds vier geskryf.
"My werk moet tot my intellektuele gemeenskap praat, maar ook tot my geleefde gemeenskap," verduidelik hy. “Daarom is verskeie van my boeke gemik op die breër gemeenskappe waarin ek woon en werk. Dit is hoe ek my navorsingswerk in praktiese en toeganklike 'wetenskapkommunikasie' vertaal as deel van my staatsdiensverpligtinge."
Song for Sarah (2018, geskryf saam met sy suster) het die lig gewerp op die waardige lewens van werkersklas Kaapse Vlakte-vroue. How to fix South Africa's Schools (2014) en A school where I belong (2018) het onderwysleiers van strategieë oor transformasie voorsien, terwyl Learning Lessons (2020) jongmense aangeraai het hoe om hul opvoeding vir hulle te laat werk.
The decolonisation of knowledge (2022) het die opname van die kurrikulum binne tien openbare universiteite ondersoek, terwyl Who gets in and why? (2019) die eerste empiriese studie was om die mikro-politiek van skooldesegregasie aan die makro-politiek van sosiale oorgang te koppel. Fault Lines: A Primer on race, science and society (2020) het die voortslepende gevolg van ras en rassisme ondersoek.
Knowledge in the Blood: Confronting Race and the Apartheid Past (2014) het die Britse Akademie vir Sosiale Wetenskappe en Geesteswetenskappe se Nayef Al Rodhan-prys gewen, terwyl As by Fire: the end of the South African University (2017) 'n SA Literêre Toekenning gewen het.
Jansen beoordeel eersgenoemde steeds as sy "die mees impakvolle" boek.
“Dit het iets gedoen wat niemand verwag het nie. In plaas daarvan om net te praat oor hoe wit Afrikaanse jeug kennis oor ons verlede opdoen, was dit 'n diep intieme storie oor hoe hulle my, die eerste swart Dekaan van Onderwys by Tukkies, getransformeer het. “Ek dink nie mense kon raai dat dit so persoonlik sou wees nie," sê Jansen, wat op die Kaapse Vlakte grootgeword het.
“Niemand het nog so intiem, naby, geskryf oor die inter-generasie meganismes wat betrokke is by die oordrag van kennis in post-traumatiese samelewings nie, nie op daardie vlak van detail nie. Dit is selfs waar vir die duisende boeke wat oor die Holocaust geskryf is."
Die politiek van kennis
Sy belangstellings in kurrikulumverandering, institusionele analise, politieke wetenskap en die politiek van kennis het in die 1980's gestalte gekry toe hy 'n jong hoërskool biologie-onderwyser was wat na alternatiewe vir die apartheidskurrikulum gesoek het. Hierdie idees is geslyp deur daaropvolgende nagraadse studies en mentors soos prof George Posner by Cornell Universiteit en prof Hans Weiler by Stanford Universiteit.
Jansen sê dit is belangrik om te verstaan dat navorsing, wetenskap en amptelike kennis (kurrikulum) wat daaromheen opgebou is, nooit werklik neutraal, waardevry of sonder bagasie is nie. Mag, politiek en gesag kom ter sprake. Dit is tydraamwerk en konteksafhanklik.
“Ek probeer vir al die wetenskappe, vir die sosiale, natuur- of geesteswetenskappe wys dat alle kennis 'n produk van politiek is.
“Wanneer jy byvoorbeeld besluit wat om te onderrig, moet jy altyd kies, want daar is soveel kennis om van te kies. Maar die oomblik wat jy kies, moet jy sekere dinge insluit, en ander uitsluit. En dit is die politiek van kennis – so eenvoudig soos dit.
Sy PhD, van Stanford Universiteit in 1991, was oor die staat en kurrikulum in Zimbabwe. Dieselfde jaar publiseer hy sy eerste groot werk oor die politiek van kennis, Knowledge and Power: Critical Perspectives Across the Disciplines. Dit het kennis/mag in velde van verpleging tot antropologie, en van stadsbeplanning tot tandheelkunde, krities ontleed.
Deesdae doen hy weer navorsing oor die voortslepende ideologieë of sogenaamde “imperiale duursaamhede" in die mediese wetenskappe, en skryf 'n boek oor menslike anatomie en genetika in Suid-Afrika saam met voormalige nadoktorale genoot Dr Jess Auerbach en huidige nadoktorale genoot Dr Cyrill Walters.
“Jy kan nie die krag van medisyne verstaan sonder om na die geskiedenis te kyk nie. Dit laat jou toe om die voortslepende gevolge van moeilike kennis met bagasie te verstaan."