
Prof Jonathan Jansen met gesogte medalje vereer
Prof Jonathan Jansen, uitgelese professor in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US), is pas as die ontvanger van die 2020/21 Medalje vir Sosiale en Geesteswetenskappe van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) en Universiteite Suid-Afrika (USAf) aangewys.
Dié aankondiging is deur die RGN, wat die toekenning in 2016 bekendgestel het, gemaak. Die RGN-medalje word jaarliks aan vakkundiges toegeken wat uitstaande bydraes deur hul navorsing in die sosiale en geesteswetenskappe gemaak het.
Die 2020/21-toekennings, die vyfde in die reeks, is 'n gesamentlike onderneming deur die RGN en USAf.
Afgesien van die erkenning van individuele gevestigde en ontluikende vakkundiges, navorsers en akademici, sal die beoordelingspaneel vanjaar ook spanne beloon wat tot Suid-Afrika se reaksie op die COVID-19-pandemie bygedra het.
Volgens die RGN is Jansen, 'n A-gegradeerde wetenskaplike by die Nasionale Navorsingstigting, erken vir sy “bydrae as 'n gevestigde navorser".
Jansen, wat sy medalje by 'n amptelike seremonie op 18 Maart 2021 sal ontvang, het in reaksie op die aankondiging gesê dit is 'n baie groot eer om hierdie medalje, wat die enigste van sy soort vir uitstaande navorsing in die sosiale en geesteswetenskappe is, te ontvang. “Ek ontvang dit met groot vreugde, maar ook met erkenning aan my navorsingspanne en die ruimhartige geleenthede by die US wat vakkundigheid in die eerste plek moontlik maak.
“Die toekenning is verder ook 'n aanmoediging om meer en beter te doen met die tipe navorsing wat die menslike toestand verbeter. Baie dankie aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing en Universiteit Suid-Afrika vir die skep van die toekenning en vir die erkenning wat vanjaar aan die meriete van opvoedkundige navorsing in 'n pandemietyd gegee is."
Jansen, 'n voormalige visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat, het in 2017 die pos as uitgelese professor in die US se Fakulteit Opvoedkunde aanvaar.
Afgesien daarvan dat hy as 'n genoot by die Sentrum vir Gevorderde Studie in Gedragswetenskappe by Stanford-univeristeit in 2016/17 gedien het, is Jansen ook die president van beide die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings en die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika (ASSAf)
Hy het in 2013 die Lewenslange Presteerder-toekening vir Afrika by die Education Africa Global-toekennings in New York, asook die Universiteit van Kalifornië se Spendlove-toekenning vir sy bydrae tot verdraagsaamheid, demokrasie en menseregte ontvang. Hy het die volgende jaar die Nayef Al Rodhan-prys van die Britse Akademie vir Sosiale en Geesteswetenskappe vir sy boek, Knowledge in the Blood (uitgegee deur Stanford University Press), ontvang.
Meer onlangse werke wat van Jansen verskyn het, sluit in Leading for Change (Routledge, 2016), As by Fire: The End of the South African University (Tafelberg, 2017), Interracial Intimacies on Campuses (Bookstorm, 2017) en Song for Sarah (Bookstorm, 2017). Die vrug van sy pen wat in 2018 verskyn het, sluit in Inequality in South African Schools (saam met Nic Spaull, uitgegee deur Springer), Politics of Curriculum (as redakteur) en Now that I know, 'n boek oor Suid-Afrikaanse gesinne wat deur die rassewette van die vyftigerjare geskei is.
Sy navorsingstudie oor die uitwerking van die COVID-19-inperking op vroue-akademici, getiteld Gender Inequality in the Shadow of COVID-19, is in 2020 bekendgestel. Die studie het die reaksies van 2 029 akademiese vroue by Suid-Afrikaanse universiteite ondersoek.