
Prof Izak van Biljon, ouddekaan van EBW, sterf
Prof Izak van Biljon, wat die oudste lewende dekaan van die US Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe was, is op Saterdag, 8 Junie 2019 op die ouderdom van 94 oorlede.
Sy verbintenis met die Universiteit het oor sowat 45 jaar gestrek. Sy tydgenote het bekendes soos prof AB de Villiers en die juris JC de Wet ingesluit.
Van Biljon het in 1945, ná twee jaar by die Opleidingskollege op Graaff-Reinet, by die US ingeskryf vir 'n BA-graad met Afrikaans en Sielkunde as sy hoofvakke. Hy het later ook sy meesters- en doktorsgraad in Sielkunde behaal.
In 1963 het Bedryfsielkunde as departement binne die destydse Handelsfakulteit tot stand gekom met prof Van Biljon, tot in daardie stadium verbonde aan die Departement Sielkunde, as die eerste hoof van die departement.
In 1986 het prof Van Biljon voltyds dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe geword (hy het die pos voorheen deeltyds beklee) tot en met sy aftrede in 1989.
Me Marie Malherbe, wat dekaansekretaresse gedurende sy termyn was, onthou hom as 'n trotse en netjiese persoon wat vuil skoene nie kon verdra nie.
"Hy het in sy termyn aan die einde van elke jaar vir die hele fakulteit 'n braai gehou op sy eie onkoste. Dan moes ek altyd vir die kinders 'n hoela-hoep koop wat hy self gedemonstreer het. Ek moes ook krieketspanne uit die fakulteit bymekaarmaak om teen mekaar te speel."
"Sy groot liefde was musiek en klanktoerusting. Hy het onder meer kerke se klankstelsels verbeter."
Oor sy voorliefde vir musiek en sport, het prof Van Biljon graag gesels. Hy het selfs programme aangebied vir die inwoners van Utopia en Azaleahof, waar hy en eggenote Leonie gewoon het, oor musiek wat nie meer op radio gespeel word nie.
Hy het op 82 begin om musiekles te neem sodat hy kon leer om bladmusiek te lees. Voorheen het hy net op gehoor gespeel, onder meer die trekklavier in Pietie le Roux se boere-orkes.
Dié voormalige kampioen van die Stellenbosch-gholfklub het ook graag vertel van sy kolhou op die sewende gat van die Stellenbosch-gholfbaan, in 1957 – sy enigste kolhou ooit en die eerste by die klub. Hy was 'n lid van die klub tot en met sy aftrede.
- Foto: Prof Izak en mev Leonie van Biljon voor sy klawerbord. Hy was 91 toe die foto geneem is.
- Prof Van Biljon se gedenkdiens vind om 11:00 op Donderedag, 27 Junie 2019 by die United Church in Van Riebeecksaraat 8, Stellenbosch, plaas.