Skip to main content
Prestigeryke internasionale genootskap aan PhD-student in wiskunde

Prestigeryke internasionale genootskap aan PhD-student in wiskunde

Media & Communication, Faculty of Science
05 April 2019

Dr Taboka Chalebgwa van die Universiteit Stellenbosch (US), is die ontvanger van die AIMS-Fields-Perimeter Africa se nadoktorale genootskap. Dit beteken dat hy vir 'n jaar lank as nadoktorale genoot by die prestigeryke Fields Instituut vir Navorsing in Wiskundige Wetenskappe in Kanada kan gaan werk.

Dr Chalebgwa, wat sy PhD-graad in Wiskunde hierdie week gedurende die April 2019 se gradeplegtighede gekry het, sê hy is grootliks geïnspireer deur dr Gareth Boxall, sy studieleier en senior lektor in wiskunde by die US: “Sy mentorskap het my nie net gelei in my groei as aspirerende wiskundige nie, maar ek kon ook 'n paar van sy lewensbeskouings aanleer".

Chalebgwa wat volgens hom in 'n tipiese laermiddelklas Afrikaan-familie in Botswana grootgeword het, sê sy besluit om ná skool wiskunde te gaan studeer, gaan terug na sy hoërskooldae: “In daardie dae - in elk geval volgens my eie maatstaf - was iemand wat hierdie vak kon baasraak soortgelyk aan 'n een-en-twintigste-eeuse gladiator. Tans is my beweegrede om wiskunde te bestudeer darem meer filosofies van aard!"

Hy het sy eerste graad in wiskunde aan die Universiteit van Gabarone in Botswana verwerf. Daarna het hy vir die program by die African Institute for Mathematical Sciences  (AIMS) in Kaapstad aansoek gedoen. Na die suksesvolle voltooiing hiervan, het hy 'n AIMS-beurs gekry om sy MSc-studies in Wiskunde onder leiding van prof. Florian Breuer by die US se Departement Wiskundige Wetenskappe voort te sit, met dr Boxall as mede-studieleier. Nadat prof Breuer na Australië verhuis het, het Taboka sy studies onder dr Boxall voortgesit.

Met 'n doktorale proefskrif getiteld “Nevanlinna theory and rational values of meromorphic functions", is dit geen maklike taak om die aard van sy werk vir Jan en San Alleman te verduidelik nie. Volgens dr Boxall, is een van die sentrale konsepte in wiskunde dié van 'n funksie waaraan jy kan dink as 'n tipe masjien waar jy sekere getalle invoer as insette, en wat dan sekere getalle produseeer as uitsette: “By alle wiskundige funksies sal 'n rasionale invoer egter nie 'n rasionale uitset tot gevolg hê nie. In werklikheid sal dit by sekere funksies baie onwaarskynlik wees dat 'n rasionale invoer ooit tot 'n rasionale uitset sal lei – maar dit kan baie moeilik wees om te bewys. Taboka se werk maak deel uit van 'n algemene projek wat daarop dui dat die stelle van invoer-uitset getalle (waar beide rasionale getalle is) vir sekere funksies eintlik baie skaars is."

Die 28-jarige Taboka beplan om in die akademie te bly, sy akademiese netwerk uit te brei en aan projekte binne die internasionale gemeenskap te werk.

Op die foto bo, Dr Taboka Chalegbwa. Foto: Stefan Els