
Plaaslike swemmers skitter in Coetzenburg-swembad
SA swemmers Erin Gallagher, Rebecca Meder en Ayrton Sweeney het vir opwindende aksie gesorg by die SA Swem Grand Prix wat die naweek by Coetzenburg gehou is, terwyl Maties Swem se Emma Chelius en Inge Weidemann elk drie medaljes by hierdie prestige-byeenkoms gewen het.
Matiestudent Chelius – wat tans vir die Statebondspele voorberei – het silwer in the 50m-vryslag sowel as die 50m-vlinderslag en brons in the 100m-vryslag verower, terwyl plaaslike leerder Inge – wat tans vir die Jeug- Olimpiese Spele voorberei – silwer in die 100m-vryslag en brons in die 200m-vryslag asook die 50m-vlinderslag gewen het.
Ander Maties wat podiumplekke behaal het, is Naudé Opperman (brons; 100m-vryslag), Reece Whitaker (brons; 50m-borsslag), Stephano Roodt (brons; 400m-vryslag), Kiara Noades (silwer; 200m-borsslag), Max Kieser (brons; 50m-vlinderslag) en Bryce Pendock (brons; 50m-vryslag).
Twaalf lede van die span wat gekies is om Suid-Afrika in April by die Statebondspele in Australië te verteenwoordig, het by dié jaarlikse byeenkoms deelgeneem.
Cameron van der Burgh, Michael Houlie en Sweeney – wat drie byeenkomsrekords opgestel het – het van die beste vertonings in die mansitems gelewer, terwyl Gallagher, Chelius, Kaylene Corbett en Emily Visagie goed vertoon het in die vrouerenne.
Met die Statebondspele om die draai, het die swemmers hierdie geleentheid gebruik om hul vertoning in 'n resies op te skerp en te bepaal waar hulle met hul voorbereiding staan.
Die swemmers sal in 'n buitehuise swembad by die Statebondspele meeding en dit was dus ook in hierdie opsig goeie voorbereiding, het Pierre de Roubaix, hoof van swem en sportbestuurder by die Universiteit Stellenbosch gesê.