
PhD-konferensie in ekonomie ˈn eerste in die land
Die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs die eerste PhD-ekonomiekonferensie in Suid-Afrika gehou. Dit is deur 23 PhD-kandidate van agt universiteite regoor die land bygewoon, wat aanbiedings gemaak het oor hul doktorale navorsing.
Volgens prof Andrie Schoombee, voorsitter van die Departement Ekonomie, was die doel “die daarstelling van ˈn forum vir PhD-studente van regoor Suid-Afrika om mekaar te ontmoet, hul navorsing te bespreek en dit vir hul tydgenote voor te dra."
Dr Nara Monkam, Navorsingsdirekeur van die Afrika Belastingadministrasieforum, ˈn internasionale organisasie wat ˈn samewerkingsplatform bied aan Afrika se belastingowerhede, het die programrede gelewer. Sy het haar werk oor eiendomsbelasting en die potensiaal wat dit vir Afrikalande inhou, bespreek – ˈn onderwerp wat besonder goed by die geleentheid gepas het aangesien baie van die PhD-kandidate van Afrikalande navorsing doen oor makro-ekonomiese beleid.
ˈn Kort reaksie deur prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, is gevolg deur ˈn lewendige bespreking wat die kollig laat val het op die polities-ekonomiese en logistieke kompleksiteite van die kwessie.
Die program het ook aanbiedings oor ˈn wye reeks onderwerpe ingesluit, byvoorbeeld handelskwessies, rasionele altruïsme, risiko-voorkeure en werksmobiliteit, buitelandse aanvraag en huispryse, finansiële stres-aanwysers en die uitwerking van hiperinflasie op bateverlies. PhD-kandidate wat aanbiedings gedoen het, sal die geleentheid gebied word om hul referate vir oorweging aan die vakjoernaal Studies in Economics and Econometrics voor te lê met die oog op die publikasie van ˈn spesiale konferensie-uitgawe in 2020.
Die volgende konferensie sal een van die hoogtepunte van die US Departement Ekonomie se eeufeesviering in Oktober 2020 wees. Dié departement is een van die oudste van sy soort in Afrika en het ˈn lang geskiedenis. Die eerste ekonomie-professor by Stellenbosch was Johannes FW Grosskopf, wat in 1920 by US begin klasgee het.
- Ons hartlike dank gaan aan die volgende borge wat bydraes gelewer het wat volledige borgskappe vir aanbieders moontlik gemaak het: Dekaanskantoor, US Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe; Research on Socio-Economic Policy (ReSEP); Ekonomiese Vereniging van Suid-Afrika; US Departement Ekonome; en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek aan US.
- Foto (verskaf): By die eerste PhD-konferensie ooit, het die US Departement van Ekonomie 23 PhD-kandidate van agt Suid-Afrikaanse lande verwelkom.