Skip to main content
Organisasies benodig robuuste strategiese argitektuur vir sukses

Organisasies benodig robuuste strategiese argitektuur vir sukses

Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
01 Junie 2018

Organisasies het 'n robuuste strategiese argitektuur nodig om mededingend en suksesvol te wees in 'n snelveranderende wêreld.

Dit was een van die gevolgtrekkings van prof Marius Ungerer van die Universiteit Stellenbosch (US) Bestuurskool in sy intreerede op Donderdag (31 Mei 2018). Hy het gepraat oor A strategic architecture perspective to stimulate strategising in organisations.

Volgens Ungerer kan 'n strategiese argitektuur gesien word 'n organisasie se kernrede vir die skep van volgehoue waarde. Dit vorm dus die basis van 'n organisasie se mededingende potensiaal.

Hy het gesê 'n organisasie se strategiese argitektuur verhoog sy kanse op sukses en is onderliggend aan die sukses of mislukking van enige strategie.

“ ʼn Strategiese argitektuur help fasiliteer belyning en fokus die aandag op die kern strategiese keuses wat die organisasie maak om sukses te behaal. Die suksesvolle uitvoering van beide beplande en ontluikende strategieë berus op duidelikheid oor die toekomstige strategiese aspirasies en opsies van 'n organisasie."

ungerer.JPG

“Dit beïnvloed ook die onderneming se die huidige mededingende gedrag en kan dus verduidelik hoekom 'n organisasie nie mededingend blyk te wees nie. Die vertrekpunt is dat mededingende gedrag en potensiaal verander en beïnvloed kan word wanneer 'n organisasie sy strategiese argitektuur herdefinieer."

Ungerer het daarop gewys dat die strategiese argitektuur van 'n organisasie uit onder meer die volgende elemente bestaan: strategiese leierskap; die analise en sintese van beide eksterne en interne faktore wat die strategiese landskap en konteks van 'n organisasie kan beïnvloed; formulering van strategie en ontwikkelingspraktyke; die gebruik van verskillende toekomsperspektiewe; die gebruik van strategievernuwing- en innoveringspraktyke om 'n organisasie se mededingendheid en volhoubaarheid te verhoog; en entrepreneursleierskap.

Hy het die belangrikheid van 'n mensgesentreerde benadering tydens strategiese prosesse en -praktyke beklemtoon ten einde maksimum ondersteuning, entoesiasme en momentum vir die strategiese reis te verseker.

Ungerer het gesê die perspektief van ʼn strategiese argitektuur kan op beide winsgewende en nie-winsgewende organisasies van toepassing wees indien die leiers geïnspireer en gewillig is om uitsette te skep en te lewer om aan die behoeftes en verwagtinge van belanghebbendes te voldoen en dit selfs oortref.

“Al is die doelwit nie om wins te maak nie, het elke organisasie 'n doel wat sy bestaansrede saamvat. Dit moet strategies beplan om hierdie doel te bereik," het hy bygevoeg.

  • ​Hooffoto: Pixabay
  • Foto 1: Prof Marius Ungerer (tweede van regs) saam met Profs Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, Ingrid Woolard, Dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en Piet Naudé, Direkteur van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool, by die intreerede.