Skip to main content
Op soek na ’n beter hartklep

Op soek na ’n beter hartklep

Olivia Rose-Innes
15 Januarie 2018

Hoewel 'n hartklepvervanging 'n lewensreddende prosedure is, is dit ook deurspek met probleme wat van bloedklonte tot weefseldegenerasie wissel. Trouens, dit is lankal tyd vir vernuwing op dié gebied.

Prof Jacques Janson, 'n senior spesialis in die Afdeling Kardiotorakale Chirurgie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het nou ondersoek ingestel na die moontlikheid dat die liggaam sy eie veneuse weefsel gebruik om 'n beskadigde mitraalklep te herskep.

Janson, wat 'n groot belangstelling in hartklepherstel en -vervanging het, het in skape weefsel van die nekaar geneem om die voorste mitraalklepsuile te skep. Volgens hom het frustrasie met die stadige ontwikkeling op hierdie gebied bygedra tot sy navorsing, wat in 'n doktorale proefskrif weerklank gevind het.

“Daar is geen pasklaar hartklep (soos byvoorbeeld met lense by katarakchirurgie) nie. Boonop is die kleppe wat wel beskikbaar is, nie ideaal nie," sê hy. “Daar was op soveel chirurgiese terreine tegnologiese vooruitgang, maar met hartkleppe is dit asof ons in die 1970's vasgeval het. Die beste meganiese klep wat tans in gebruik is, het in wese oor 40 jaar onveranderd gebly."

Probleme word ondervind met sowel die meganiese prostetiese as bioprostetiese kleppe wat gebruik word. Met prostetiese kleppe kan bloedklonte vorm, wat die gevaar van beroerte verhoog. Pasiënte moet dus teenstollingsmiddels neem, wat weer die bloedingsrisiko verhoog.

“Die gevaar bestaan dat jy een siekte net vir 'n ander een verruil wanneer jy iemand se hartklep vervang," sê Janson.

By bioprostetiese kleppe word biologiese materiaal soos die menslike pericardium en varkkleppe gebruik. Dit moet met glutaraldehied behandel en gefikseer word om die weefsel te versterk en antigene teverwyder. Hierdie nie-lewende weefsel  degenereer met verloop van tyd en moet ná 10-15 jaar vervang word. Soms kan die pasiënt se eie perikardium gebruik word,maar dit verkalk en krimp ook ná 'n tyd, behalwe as dit ook gefikseer en nie-lewend gemaak word.

Vir pasiënte ouer as 65 word 'n weefselklep gewoonlik gekies omdat dit, ondanks degenerasie, waarskynlik die res van hul lewe sal hou. Vir jonger pasiënte sal 'n meganiese klep langer hou, maar dit noodsaak die lewenslange gebruik van Warfarin. Baie jong pasiënte verkies 'n weefselklepvervanging en is bereid is om ná 10 jaar eerder nog 'n operasie te ondergaan.

Warfarin word ook teenaangedui vir vroue wat swanger wil raak. In sodanige gevalle word 'n weefselklep gebruik, met die veronderstelling dat 'n verdere operasienoodsaaklik is.

“Die herstel van 'n klep eerder as die vervanging daarvan is altyd die eerste prys omdat jy nie met die komplikasies van 'n prostese te doen het nie," sê Janson.

Menslike herskeppende weefsel die ideaal

“Daar is baie stres op 'n werkende klep en dit moet self kan herstel. Ideaal gesproke verkies mens 'n metode waardeur die pasiënt se eie, herskeppende weefsel gebruik word. My plan was om 'n aar te probeer gebruik, soos ons met kroonaaromleidings doen.

“Om 'n aaroorplanting as kanaal te gebruik, waarvoor dit ontwerp is, is egter iets heeltemal anders as om dit in 'n klepsuil te omskep.

“Ek moet erken ek is teësinnig om diere te gebruik, maar dit was baie nuttig om die tegniek gedoen te kry. Ons het die skaapnekaar gebruik, wat lank en wyd is. Die hart self is soortgelyk aan dié van 'n mens, veral die mitraalkleppe, wat dit ook geskik maak."

Ten einde die suil te vorm, het Janson 12 cm van 'n aar geneem, dit lengtegewys oopgesny en daarna dubbel gevou met die binneste endoteellaag aan die buitekant en die openinge van die aarvertakkings toegewerk. Gore-Tex-hegsteke is om die rand van die suil ingeplant as koorde wat aan die papillêre spiere heg en sodoende ondersteuning aan die suil bied.

“Met die operasie en eggokardiografiese ondersoeke agter die rug, het die klep aanvanklik heel goed gelyk, maar daar was tog tegniese probleme," vertel Janson.

“Wanneer ons die klep in mense herstel, sit ons 'n ring in om die klepannulus te stabiliseer sodat dit nie vergroot nie. Die ring bestaan basies uit draad wat om 'n stukkie Dacron gedraai is. Ek wou nie vreemde weefsel in die skape gebruik nie, maar die genesingsproses natuurlik laat geskied. Die skaapklep het dus aanhou groei en die suil het na verhouding kleiner geword. As gevolg daarvan het ons gevind dat mitraalinkompetensie oor 'n tydperk van  ses tot tien maande progressief vererger het. Enkele Gore-Tex-koorde het ook losgeskeur omdat daar soveel druk op die suil was.

“As ons 'n verdere studie doen, sal ons waarskynlik die klep se duursaamheid probeer verbeter deur nie net die annulus te ondersteun nie, maar ook die suil deur middle van sekondêre koorde.

“Dit was wel bemoedigend dat die histologiese evaluasie getoon het die aarsuil self was lewensvatbaar. Die weefsel het lewend gebly en kon die spanning van 'n werkende klep hanteer; dit het ook die vermoë getoon om te herstel en by die nuwe milieu in die hart aan te pas. Dit het dus die potensiaal om assuilvervanger gebruik te word.

Wat volgende?

“Die volgende stap is om ondersoek in te stel of dit klinies moontlik sal wees om 'n hele klep te vervang, maar uiteraard sal ons dit as 'n studieprotokol moet doen.

“In 'n mens sal ons in plaas van die nekaar die safena-aar in die been gebruik (in skape is dit te klein). Ons wend dit reeds vir kroonaaromleidings aan en die aar is groot genoeg dat 'n hele suil geskep kan word.

“Dit kan dalk veilig wees om die procedure in net een of twee pasiënte uit te toets en hulle 'n jaar lank goed te monitor ten einde vas te stel of die klep vervang moet word. Pasiënte vir wie die gebruik van Warfarin 'n hoë risiko inhou, kan dalk hierby baat vind.

“Hierdie metode kan dalk ook toegepas word deur 'n stukkie van die suil wat weens infeksie ontbreek, met die aar te vervang. Pleks van die perikardium, wat sal degenereer, kan 'n aar dalk 'n goeie alternatief as laslappie bied. Suile trek ook somtyds terug en moet verleng word; ook hier kan 'n aarlappie dalk werk.

“Ek het dit gedoen in 'n pasiënt waar die hele voorste suil infeksie gehad het en saam met die koorde weggesny moes word. In dié geval het ek 'n safena-aar gebruik en ook koorde ingeplant. Dis nou byna 10 maande later en die pasiënt vorder baie goed. Dit was die eerste geval waar 'n menslike safena-aar in klepchirurgie gebruik is. Dit was egter in 'n herstelsituasie en nie vir 'n volle vervanging nie.

“Dit kan dalk ook vir ander kleppe aangewend word. Vir die vervanging van die aortaklep, wat kleiner is en kleiner suile vereis, sal byvoorbeeld minder aar benodig word. Daar is ook minder druk op die klep. In Eerstewêreld-bevolkings is die ouer aortaklep die een wat neig om aangetas te word weens stenose. 'n Verkalkte, verdikte klep kan dikwels nie herstel word nie en moet vervang word. By hierdie pasiënte is die oplossing egter dikwels 'n weefselklep, wat vir hul oorblywende leeftyd sal hou."

Die eerste prys, voer Janson aan, sou 'n lewendeweefselklep wees wat in 'n jong persoon 20 jaar lank sonder die gebruik van Warfarin kan hou – veral in 'n land soos Suid-Afrika, waar herhaalde operasies weens hulpbronbeperkings dikwels nie haalbaar is nie.

Onderskrif: Prof Jacques Janson

Foto deur: Luigi Bennett