
‘Op julle merke, gereed, gesels!’ vir steundienstepersoneel van Stellenbosch en Lund
Tien personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) is gekies vir vanjaar se gemengde mobiliteitsprogram vir professionele administratiewe steundienste- (PASD-)personeel, wat in samewerking met die Universiteit van Lund in Swede aangebied word.
Die unieke program gee PASD-personeel 'n geleentheid om met hulle eweknieë oorsee te skakel en sodoende professioneel te ontwikkel, aan te hou leer en nuwe vaardighede te bou, terwyl hulle ook waardevolle internasionale ervaring opdoen. Die program handel oor die onderwerpe van interkulturele vaardighede en insluiting en beoog om gesprekke oor internasionalisering in uiteenlopende universiteitsomgewings aan die gang te sit. Die onderwerpe én bestepraktykvoorbeelde van albei universiteite word in 'n kombinasie van aanlyn en kontaksessies aangebied.
Die eerste aanlyn sessie, op 12 Junie, was 'n ysbreker sodat die deelnemers van die twee instellings mekaar kon leer ken. Vir die volgende aanlyn aanbod, op 21 Augustus, sal die Lund-personeel 'n praatjie oor Sweedse kultuur aanbied om hulle US-eweknieë vir hulle besoek aan Lund in September voor te berei. Met hulle aankoms in Swede sal die tien US-werknemers hulle Lund-eweknieë in die werkplek rond vergesel, terwyl die Swede op hulle beurt in November 'n soortgelyke geleentheid by die US sal ontvang.
Die US-deelnemers is soos volg:
- Mev Karlien Breedt, US Argief, Registrateursafdeling
- Mev Mandy Gabriels, Regsdienste
- Me Katlego Letlonkane, Menslike Hulpbronne: Diensbillikheid en die Bevordering van Diversiteit
- Mnr Phumlani Mathebula, Fasiliteitsbestuur
- Me Puseletso Motsomane, Afdeling Navorsingsontwikkeling
- Mnr Gert van Deventer, Afdeling Innovasie en Kommersialisering
- Mev Natasja Malherbe, Biblioteek- en Inligtingsdiens
- Mnr Lishen Chetty, US Woordfees
- Mev Melissa Siegelaar, Kantoor van die Dekaan: Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
- Me Marick Hornsveld, Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking