Skip to main content
Ontvanger van Rektorstoekenning dien om ander te help om uit te blink

Ontvanger van Rektorstoekenning dien om ander te help om uit te blink

Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
02 November 2021

Grace Mngadi het onlangs erkenning ontvang vir haar passie vir leierskap toe 'n Rektorstoekenning aan haar toegeken is.

​Sy is een van 2021 se 82 ontvangers van die jaarlikse Rektorstoekennings vir Uitmuntende Prestasie, wat erkenning gee aan studente van die Universiteit Stellenbosch (US) vir hul prestasie op die volgende gebiede: akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en diensverskaffing. Mngadi is in die leierskapskategorie vereer. 

Die Durban-gebore Mngadi wat in Gauteng grootgeword het, sê studenteleierskap kan baie uitdagend wees. “Studente besef nie hoeveel werk 'n leierskapsposisie behels nie. Somtyds voel leiers ook onseker of hulle op die regte pad is of nie. 'n Eksterne bekragtiging soos die Rektorstoekenning help om die druk te verlig," sê sy. 

Mngadi beklee al sedert 2019, verskeie leierskapsposisies by die US. Dit sluit in die adjunkspeaker intern van die Studenteparlement; huiskomiteelid van Minerva, voorsitter van die University of Stellenbosch Debating Union (twee termyne); sekretaris-generaal van die US se Toneelkunstevereniging; Studenteraad-bestuurder vir die portefeulje van Vroue- en Queerbemagtiging; en hoof van studenteverhoudinge op die BA-studentekomitee. Sy is ook 'n aktiewe lid van die Beweging teen Geslagsgebaseerde Geweld by die US. 

“Vir my beteken leierskap diens – om die gemeenskap te dien sodat almal rondom my kan uitblink. Dit spoor my aan. Tweedens, werksetiek. Ek het nog nooit by iets betrokke geraak waar ek nie bereid was om 110% by te dra nie. Dit het baie opofferings gekos om hierdie ampte deur te sien, maar dit was die moeite werd," sê sy. 

Mngadi het ook hulde gebring aan die “wonderlike mense en spanmaats" saam met wie sy by die US gewerk het. “Ek sou nie alles kon bereik het wat ek het nie indien dit nie vir my spanmaats was nie. Ek is geëerd om saam met sulke ongelooflike mense te kon dien," sê sy.

Klik hier om meer te lees oor die Rektorstoekennings en die ontvangers. 

* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer.  Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel.