Skip to main content
Ontvanger van Mandy Rossouw-beurs aangekondig

Ontvanger van Mandy Rossouw-beurs aangekondig

Department of Journalism
19 April 2016

Die Departement Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) is bly om aan te kondig dat die Mandy Rossouw Beurs vir 2016 toegeken is aan me Nation Nyoka (26), ʼn BA Honneurs Joernalistiek-student aan die Universiteit.

Die beurs, ter waarde van R40 000, is in 2013 deur vriende en kollegas van wyle Mandy Rossouw ingestel, en word toegeken aan ʼn vroulike BA Honneurs Joernalistiek-student met ʼn belangstelling in die politiek. Die beurs word gebruik om die klasgelde van die ontvanger te dek.

In die toekenning van die beurs het die keurkomitee gesê dat Nyoka hulle vanuit die staanspoor "beïndruk en bekoor" het. "Ons glo almal dat jy die Mandy-mantel met vertroue en met onderskeiding sal dra."

Nation, ʼn boorling van Johannesburg, het ʼn voorgraadse kwalifikasie in Mediastudies aan die Rhodes-Universiteit verwerf. "Dit maak my nederig om die beurs te ontvang," sê Nyoka. "Ek hoop om aan die joernalistieke integriteit wat Mandy Rossouw as presedent gestel het, te voldoen." Sy het bygevoeg dat sy hoop om ʼn soortgelyke blywende indruk op die politieke joernalistieke arena te maak.

Rossouw, ʼn alumna van die Departement Joernalistiek, was welbekend as politieke verslaggewer en die eerste joernalis om oor die Nkandla-sage te skryf. Sy is op die ouderdom van 33 in Maart 2013 oorlede.

Die 2016 keurkomitee het onder andere ingesluit Waldimar Pelser, hoofredakteur van Rapport, Adriaan Basson, redakteur van News24, Ferial Haffajee, redakteur van City Press, en Mandy se suster, Megan Rossouw.

Die vorige ontvanger is me S'thembile Cele, ʼn joernalis by City Press. Die beurs is nie in 2015 toegeken nie.