Skip to main content
Ontmoet Realeboga Mothupi: #MyTygerMaties60

Ontmoet Realeboga Mothupi: #MyTygerMaties60

FMHS Marketing & Communications
04 November 2016

​As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Realeboga Mothupi.

Almal gaan dood, maar nie almal lewe nie. Dit is die belangrikste ding wat Realeboga Mothupi sal wil onthou soos sy ouer word, en om ’n dokter te wees is ’n kerndeel van dié lewe wat sy vir haarself beplan. “Die lewe sou sinneloos gewees het as ek nie dié pad kon kies nie.”

Mothupi het ’n werwingsbeurs ontvang om by die Universiteit Stellenbosch te studeer en is nou amper klaar met haar eerste jaar as MB,ChB-student op die Tygerbergkampus. “Ek het hoofkampus en die Neelsie-lewe verwag, maar in plaas daarvan ’n eiland in Parow-dise gekry,” spot sy.

Sy sê haar ouers en die tiener-aktivis Malala Yousafzai het haar grootliks beïnvloed om dié rigting in te slaan. “Ek het by hulle geleer hoe belangrik ’n boek in ’n kind se hand is. Dit het my aangespoor om medies te studeer.”

Haar droomwerk is om ’n pediatriese rekonstruktiewe-chirurg te wees en sal graag met kinders in die Derde Wêreld wil werk.Vinnige feite:

  • YouTube of Instagram? “YouTube, want jy kan na grimering-tutoriale kyk. En Khan Academy help my meer as wat Instagram ooit kan.”
  • Hoe ervaar jy jou eerste jaar op kampus? “Dit is ’n emosionele warboel. Die beste en slegste ding daarvan om onafhanklik te wees. Om jou eie pad te bepaal is fantasties, maar begrotingsbestuur en wispelteurige intra- en interpersoonlike verhoudings is moeilik om uit te pluis.”
  • Beste gesondheidswenk? “Bly weg van 2-minuutnoedels en mayonnaise.”
  • Laaste boek wat jy gelees het? “Cut her dead deur Iain McDowall.”