
Ontmoet Mustafa Karbanee: #MyTygerMaties60
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Mustafa Karbanee.Wie sê jy kan nie beide ’n swartbelt in karate hê én ’n bobaas kaaskoekbakker wees nie? Wel, Mustafa Karbanee is ’n jong man met uiteenlopenede talente. Dit was sy akademiese talent wat daartoe gelei het dat hy MB,ChB keuring by die Universiteit Stellenbosch gekry het, en hy is ook ’n ywerige digter. Selfs sy lewensleuse klink poëties: “Wat is ’n lewe geleef as dit nie is tot voordeel van ander nie?” Dis juis hoekom Mustafa die mediese professie gekies het. “Ek voel vervuld as ek ander help,” sê hy. Hy sal graag eendag saam met Dokters Sonder Grense (MSF) reddingswerk in rampgebiede wil doen, verkieslik as ’n kardiotorakale chirurg. En as sy 40-jarige self vir een of ander rede sy passie verloor, sal hy homself graag wil herinner dat die wêreld mense nodig het wat bereid om opofferings vir ander te maak. “‘Wees die persoon wat jy nog altyd gedroom het om te word’, sal ek vir myself wil sê.”Vier vinnige feite:
- Hy kan nie deur ’n dag kom sonder sjokolade nie.
- Hardkoppigheid is sy slegste eienskap.
- As hy ’n boodskap vir grootmense kon gee, sou dit wees om hulle te herinner dat hul kinders net een maal tieners sal wees. “Stel regverdige perke en reëls, maar onthou dat dié jare in ’n oogwink verby sal wees, so laat hul toe om te lééf.”
- Vir tieners sal hy wil sê: "Die hartseer of probleme wat jy nou ervaar sal oor vyf jaar nie meer belangrik wees nie. Onthou dit."