
Ontmoet Marietjie Swanepoel: #MyTygerMaties60
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Marietjie Swanepoel.
Integriteit, praktiese logika en toewyding op ’n taak is tipiese eienskappe wat jy van Marietjie Swanepoel se persoonlikheidstipe kan verwag volgens die Myers-Briggs-toetse. Dít is ook alles eienskappe wat haar sal help in haar gekose studierigting: sy is tans ’n eerstejaar MB,Chb-student aan die Universiteit Stellenbosch.
Swanepoel het dié kursus gekies nie net omdat sy ’n verskil wil maak nie, maar ook omdat die werk uitdagend en interessant is. Sy beskou haarself as geseënd om in dié posisie te wees en dit, asook haar eie standaarde, dien as haar aansporing. “Die wete dat alles wat ek het ’n voorreg is, motiveer my om uit dankbaarheid hard te werk.”
Haar gunsteling fliekkarakter is die Chinese vrouevegter Mulan. “Ek hou van die karakter omdat sy optree om dié wat sy lief het, te beskerm. Sy groei as ’n persoon en wys dat sy dapper en vasberade is, en sy gebruik haar intellek om probleme om te los. En deur dit alles bly sy nederig.”
Swanepoel sien ook haarself as ’n “work in progress” en iemand wat nog elke dag groei as ’n persoon. Wyse woorde:
- Beste wenk vir tydsbeplanning? “Benut elke minuut van elke dag. Jy kry net eenkeer daardie minuut.”
- Watter boodskap sal jy vir volwassenes wil gee? “Julle is in ’n posisie om jonger mense te beïnvloed. Tree dus elke dag op as ’n voorbeeld van wat jy in die wêreld wil sien gebeur, want jy weet nooit wie jou raaksien of vir wie jy ’n rolmodel is nie.”