Skip to main content
Ontmoet Kauthar Ghansar: #MyTygerMaties60

Ontmoet Kauthar Ghansar: #MyTygerMaties60

FMHS Marketing & Communications
21 Oktober 2016

​As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Kauthar Ghansar.

“Jy sal nooit weet tensy jy probeer nie.” Dit is eerstejaar MB,ChB-student Kauthar Ghansar se lewensleuse.

Vir menigte studente is dit ’n lewenslange droom om medies te kan studeer, maar vir Ghansar het dit daaroor gegaan om haar intuïsie te vertrou. “Ek het baie sterk gevoel oor die kursus, en toe besluit om my gevoel te volg.”

Haar doel is om eendag ’n ginekoloog te wees, asook ’n liefdevolle vrou vir die man van haar drome. “Ek ek sal ook nie my ouers vergeet nie – hulle is die rede hoekom ek hier is vandag. Ek sal na hulle omsien wanneer hulle oud word.” Sy sê haar familie is haar grootste motivering om te volhard met haar werk.

Ghansar kom van die Kaapse voorstad Rylands en het in matriek sewe onderskeidings behaal. Sy het ’n werwingsbeurs van die Universiteit Stellenbosch ontvang.

Sy sê haar eerstejaar was met tye uitdagend omdat sy ’n introvert is, en die klomp nuwe gesigte was ’n aanpassing. “Ek was aanvanklik ongemaklik, maar soos die tyd verloop het, het ek al hoe meer tuis begin voel. Die studente en die personeel is almal baie verwelkomend.”

Sy probeer om voortdurend op hoogte van haar werk te bly deur haar notas te lees voor klas, aandagtig te luister tydens klas, en dan weer deur haar notas te lees na klas. “Dié hiersiening spaar baie tyd, veral as dit nader aan ’n toets of eksamen kom.” Het jy geweet…

  • Sy kan Henna-tatoes aanwend.
  • Sy haat dit om kaalvoet te loop.
  • Sy is mal oor Ocean Basket se mossels. “Hoofsaaklik vir die sous.”
  • Sy sien uit daarna om te leer hoe om kadawers te dissekteer.