
Ontmoet Jean-Marie du Preez: #MyTygerMaties60
15 Augustus 2016
As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Jean-Marie du Preez.
As ses-jarige dogtertjie het sy haar familie uitgeput met haar dokter-speelgoedstelletjie. “Dit het ’n koorspen, stetoskoop en die hele toetie gehad! Ek het almal in die huis ondersoek en opereer to vervelens toe,” onthou Jean-Marie du Preez.
Maar sy moes eers hoofmeisie van Hoërskool Cradock word en in die eerstespanne vir tennis, hokkie, atletiek, noodhulp en vasvra deelneem vóór sy haar studenteloopbaan as MB,ChB-student aan die Universiteit Stellenbosch kon begin.
Die "trotse Afrikaanse boeremeisie", soos sy haarself beskryf, is mal oor kook, bak, braaivleis en kan selfs hekel. Sy sien haarself oor 10 jaar as ’n huisarts iewers op die platteland. "Getroud met ’n boer en ’n bus vol kinders," dagdroom sy. Maar vir nou bekommer sy haar nie daaroor nie en glo daarin om een dag op ’n slag aan te pak. "Bekommernis is die grootse dief van vreugde," glo sy.Sy sal ook ’n soortgelyk boodskap aan grootmense wil oordra: "Moenie die lewe te ernstig opneem nie. Daar’s ’n verskil tussen lewendig wees en lewe."Vyf vinnige feite:- Sy is ’n middelkind.
- Haar slegste gewoonte is om op onvanpaste tye te lag.
- Om elke dag te oefen is haar beste gewoonte.
- Sy is mal oor Country-musiek en Afrikaanse saamsingtreffers.
- Haar studiewenk is om dinge nie te ingewikkeld te maak nie. “Ons is nog net kinders. Prioritiseer, maar gun jouself ook kindwees.”