
Ontmoet die US se 2021 Onderriggenoot: Dr Taryn Bernard
Een van die Universiteit Stellenbosch (US) se onderiggenote vir die tydperk 2021 tot 2023, dr Taryn Bernard, sê sy is opgewonde oor die geleenthede wat die navorsingsbeurs as onderriggenoot vir haar klaskamerpraktyke en navorsingsdoelwitte inhou.
“Die navorsingsbeurs as onderriggenoot is 'n ongelooflike geleentheid vir navorsers by die US om toegewyde tyd te spandeer om onderrig en leer op universiteitsvlak te ondersoek. Ek is baie opgewonde hieroor – om nuwe lewe in die goed te blaas wat ek as vanselfsprekend aanvaar, om anders oor goed te dink en dit te ervaar, om ruimte te skep vir nuwe perspektiewe en stemme en om 'n breër akademiese gemeenskap met rapportering hieroor te bereik."
Bernard is 'n senior dosent in die Verlengde Graadprogram (VGP) in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Sy doseer akademiese Engels vir 'n groep multikulturele en meertalige studente. Sy gee reeds vir meer as 'n dekade lank onderrig en in 2019 het sy 'n Toekenning vir Voortreflike Onderrig in die afdeling vir uitgelese dosente van die US ontvang.
Sy kom uit 'n agtergrond van toegepaste linguistiek, met spesifieke klem op metodes van kritiese toepaste linguistiek. Hierdie metodes het haar pedagogiese praktyke en haar navorsing beïnvloed. Bernard het hierdie metodes gebruik om die taal van korporatiewe sosiale verantwoordelikheid, die media se voorstelling van Marikana en die ingewikkeldhede van die transformering van 'n hoëronderwysstelsel te ondersoek.
Sy het voorheen kritieke metodes van toegepaste linguistiek met etnografie verenig om 'n ander lig op die "taalkwessie" by Suid-Afrikaanse universiteite te werp. Die navorsingsbeurs as onderriggenoot sal haar haar in staat stel om op hierdie trant voort te gaan, om by 'n etnografiese projek betrokke te raak wat 'n uiteenlopende reeks metodologieë sal gebruik om 'n groep studente oor die verloop van drie jaar op hul reis deur die universiteitstelsel te “volg". Daar sal veral aandag gegee word aan taal en geletterdheid en met behulp van die (kritieke) instrumente waarmee sy goed bekend is, sal die inligting ontleed word om lig te werp op kwessies van bemiddeling en mag.
Bernard se uiteindelik doel is om hierdie insigte te gebruik om haar kurrikula en klaskamerpraktyk aan te pas. Sy is egter ook opgewonde daaroor om haar bevindings met die breër gemeenskap te deel op 'n manier wat bydra tot die belangrike projek van die skepping van 'n omgewing wat verwelkomend, stimulerend en progressief voel.
“Transformasie is nou al vir 'n paar jaar – en veral ná die #FeesMustFall"-protesaksies – 'n belangrike punt op die agenda. Ongelukkig is transformasie nog nie bereik nie en daar is baie studente wat vreemd voel, wat nie tuis voel op Suid-Afrikaanse kampusse nie. Deur die tipe inligting te versamel wat ek mik om te bekom, en om teen die agtergrond van teoretiese begrippe van 'ruimte' die inligting te ontleed, hoop ek die projek sal regtig daarin slaag om die ervarings van 'n spesifieke groep studente op maniere vas te vang wat tot die transformasie-agenda sal bydra. Indien daar oor hoër onderwys gedink word as iets wat tot openbare voordeel is – wat dikwels die geval is, sal ware transformasie in die hoëronderwyssektor 'n direkte voordeel vir die samelewing inhou."
Bernard se navorsingsprojek sal drie jaar duur en sal uiteindelik 'n sosiolinguistieke en etnografiese projek wees. Sy sal groot klem lê op taal en kultuur, en sy sê sy sal baie nadink oor haar eie kultuur, die kultuur van die studente wat kies om aan die navorsingsprojek deel te neem, die instelling se kultuur en die taal en dialekte wat in hierdie ruimte gehoor word en hoe hulle gesien en gebruik word.
“Ek sal innoverende en kunste-gebaseerde metodes gebruik om dit te doen en sal deelnemers vra om na te dink oor die artefakte wat hulle kies om in te dien. Dit sal my ongelooflik baie insig in die ervarings van 'n groep meertalige studente bied op hul reis deur die hoëronderwysstelsel. Ons moet nog so baie oor diversiteit en veerkragtigheid leer, en so baie daarvan kan net gevind word in die verhale wat studente oor hulleself en hul wêrelde vertel.
“Ek glo die navorsing sal op die ou einde ook die waarde van kwalitatiewe navorsing beklemtoon. Dit is 'n tipe navorsing wat nie veronderstel is om veralgemeen te word nie, maar kan nogtans help om kompleksiteit te ontrafel en te verstaan. Daar is so baie kompleksiteit in die Suid-Afrikaanse hoëronderwysstelsel en so baie wat nog verstaan moet word."
Meer oor die US se Navorsingsbeurs as Onderriggenoot
Die Universiteit Stellenbosch het in 2009 navorsingsbeurse vir onderriggenote bekendgestel om 'n geleentheid aan uitgesoekte akademici te bied om hul kundigheid in onderrig te ontwikkel en om die groei van die vakgebied van onderrig en leer by die Universiteit te stimuleer. Die navorsingsbeurse bied aan uitnemende dosente en vakkundiges op die gebied van onderrig en leer die geleentheid om vir 'n tydperk (tussen een en drie jaar) en met verskillende vorme van ondersteuning op aspekte van kurrikulumhernuwing te fokus, om onderrig en leer te verken en om goeie onderrig- en leerpraktyke in departemente en fakulteite uit te brei.
Die navorsingsbeurse word deur die Universiteit se Kapasiteitsontwikkelingstoekennings befonds. Sedert die instelling van die program in 2009 het die US reeds 13 navorsingsbeurse toegeken. Vier akademici het vir 2021 tot 2023 navorsingsbeurse as onderriggenote ontvang. Dit sluit dr Taryn Bernard in, asook prof Debby Blaine (departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese, Fakulteit Ingenieurswese), dr Gretha Steenkamp (Skool vir Rekeningkunde, Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) en prof Susan van Schalkwyk (Direkteur: Sentrum vir Gesondheidsberoepe-onderwys, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe) in.
Vir verdere inligting, stuur 'n e-pos aan dr Karin Cattell-Holden by [email protected].