Skip to main content
Olimpiese droom nou ’n realiteit vir Matie-atleet

Olimpiese droom nou ’n realiteit vir Matie-atleet

Pia Nänny
04 Augustus 2016

Wanneer die Matie-atleet Justine Palframan (22) op die atletiekbaan by die Olimpiese Spele in Rio aantree, sal 'n droom wat in die plattelandse dorpie Eshowe in KwaZulu-Natal ontstaan het, bewaarheid word.

"Ek is opgewonde, ek is verlig, ek is baie bly," het sy gesê ná haar insluiting by die Suid-Afrikaanse Olimpiese span bevestig is. "Ek kan nie glo dat dit werklik besig is om te gebeur nie!"

Justine, 'n student in BSc Sportwetenskap en 'n Stellenbosch-sportambassadeur (SSA)*, kom uit 'n atletiekfamilie. Haar ouers, Steve en Trevlyn Palframan, het op die atletiekbaan ontmoet en het albei hul provinsie in atletiek verteenwoordig.

Toe sy jonger was, het iemand vir haar ouers gesê dat geen top-sportman of -vrou ooit uit 'n klein dorpie soos Eshowe sal kom nie, omdat hulle nie die geriewe het nie. 

Justine is ’n bewys dat dit nie waar is nie. Sy het die gebrek aan geriewe oorkom deur op haar skool, Hoërskool Eshowe, se hokkieveld te oefen. Haar "ondanks-alles"-storie is een van die hoofredes waarom sy ingestem het om 'n SSA-ambassadeur te word.

Sy glo baie mense bereik nie hul volle potensiaal nie omdat hulle die struikelblokke op hul pad as onoorkombaar beskou en sy hoop haar storie sal ander inspireer om te glo dat enigiets moontlik is.

"Ek wil graag vir hulle sê: Ek weet jy het nie dit nie, maar jy het wel dat. Jy moet vindingryk wees. Dit is moontlik om die hoogste vlak te bereik met wat jy het. Dit is geen verskoning nie."

Sy beklemtoon egter hoe belangrik ondersteuning is.

"Ek het 'n atletiekagtergrond en my pa het my afgerig. Sommige mense het nie 'n afrigter óf geriewe nie – ek het ten minste die afrigting en ondersteuning gehad."

Justine het in Januarie 2013 ingeskryf vir 'n BSc Sportwetenskap-graad by US waar sy saam met haar afrigter, Mohamed Ally van Maties Atletiek, oefen.

Minder as vier jaar later is Justine 'n gesoute atleet wat al aan wêreldbyeenkomste op junior en senior vlak deelgeneem het. Sy het goud gewen in die 400m by die Wêreldstudentespele in 2015 en was 'n lid van die 4x400-aflosspan wat in Junie goud by die Afrika Senior Atletiekkampioenskap gewen het.

As deel van haar voorbereiding vir die Olimpiese Spele het sy 'n week in Jamaika deurgebring waar sy saam met vriende en mede-atlete Wayde van Niekerk en Akani Simbine by die Racers-atletiekklub – tuisklub van die bekende naelloper Usain Bolt – geoefen het.

Sy moes haar fiksheid bewys nadat sy vroeër vanjaar met 'n besering gesukkel het. Hierdie besering het haar verhinder om in April haar nasionale titels in die 200m en 400m by die Suid-Afrikaanse nasionale baan- en veldkampioenskappe te verdedig.

"Om uit die SA kampioenskap te moes onttrek, was baie ontstellend, maar dit was die regte besluit op daardie tydstip. Ek wou hardloop, ek wou my titels verdedig, maar met die oog op die toekoms was dit nie die risiko werd nie."

Sy erken dit is nie altyd maklik om na die groter prentjie te kyk nie. 'n Afrigter speel hier 'n belangrike rol, asook ondervinding.

Justine het die weke voor die Olimpiese Spele in Europa deurgebring om te oefen en voor te berei. Hierdie voorbereiding en haar deelname aan die Olimpiese Spele beteken dat sy klas misloop. Sy het nog twee vakke wat sy moet voltooi om aan die einde van die jaar te gradueer.

Om studies en sport te balanseer is nie maklik nie, veral nie as jy in albei wil goed doen nie, sê sy. Harde werk en 'n gewilligheid om hard te werk is haar raad vir sukses. Sy is nie spyt oor enige van die opofferings wat sy moes maak om op die hoogste vlak te kan deelneem nie.

"Dis die moeite werd," sê sy.

  • Die Stellenbosch Sport Ambassadors-program wil plaaslike atlete bemagtig op hul reis na uitnemendheid. Hulle bemagtiging sal dan daartoe bydra dat Stellenbosch as 'n dorp van uitnemendheid bemark word en as inspirasie dien vir die Stellenbosch-gemeenskap. Die program is 'n vennootskap tussen die Stellenbosch Munisipaliteit, die Stellenbosch Akademie vir Sport (SAS) en Maties Sport. Besoek die Stellenbosch Sport Ambassadors-bladsy op Facebook of volg hulle op Twitter by @SboschSA.