Nuwerwetse laser gebruik om voëls saggies by graanproewe te verjaag
Diegene wat al graanteeltproewe uitgevoer het sal weet dat voëls heelwat skade aan jong plante kan aanrig. Elke planteteler het maar sy of haar unieke manier om dit te hanteer. Sommige volg drastiese maatreëls, terwyl andere weer voorkomend optree. Die eerste opsie behels dikwels die skiet van voëls, maar dit is gewoonlik net vir ‘n seisoen of twee ‘n oplossing en is daarby nie vir voëlliefhebbers aanvaarbaar nie.
Oor die afgelope tien jaar het proewe van die Departement Genetika se Planteteeltlaboratorium (PTL) op die Welgevallen Proefplaas aansienlik uitgebrei, onder meer weens kontraknavorsing wat toegeneem het. Dit het bykans onmoontlik en onbekostigbaar geraak om nette oor al die beplante landerye te span. Die gebruik van nette maak dit ook moeilik om nuwe tegnologie soos hommeltuie (“drones”) te gebruik.
Dit het dus vir die PTL nodig geraak om te herbesin hoe om die probleem van voëlbeheer aan te spreek. Verskillende afskrikmetodes is oorweeg. Aspekte soos ‘n skool aan die een kant en ‘n woonbuurt aan die ander moes ook in gedagte gehou word.
Na heelwat navrae en navorsing het die PTL in 2015 kontak gemaak met ‘n plaaslike maatskappy, Eagle Eye Bird Control. Hulle het ‘n kragtige laserlig voorgestel wat soos ‘n flitslig werk. Dit het uiters goed gewerk om die voëls weg te jaag, maar iemand moes dit voortdurend vashou. Vele lang dae later is besef dat dit nie ‘n volhoubare langtermyn opsie is nie.
Teen 2017 het die span danksy ‘n vroeëre intensiewe Google-soektogte bewus geraak van ‘n nuwe produk deur ‘n Nederlandse maatskappy, Bird Control Group (BCG). Kontak is gemaak met die maatskappy. Teen Mei 2017 is die eerste Autonomic-laserstelsel van sy soort in Suid-Afrika in gebruik geneem.
Die toestel bestaan uit ‘n kragtige klas 3B groen laserlig. Die waterdigte eenheid waarin dit gehou word laat dit baie soos ‘n sekuriteitskamera lyk. Die pad wat die laser oor ‘n landery volg kan vooraf geprogrammeer word, en dit kan heeltemal volgens die gebruiker se behoeftes aangepas word. Die toestel kan dus heeltemal onafhanklik vir 24/7 funksioneer volgens ‘n voorafbepaalde patroon. Behalwe vir die aanvanklike programmering daarvan hoef geen mens verder betrokke te wees in die gebruik daarvan nie.
En, werk dit? Ja. Sover het die PTL-proewe hierdie seisoen bykans geen skade gely in die areas wat deur die laser gedek word nie.
Hoe werk dit? Voëls ervaar die laser as ‘n fisiese bedreiging en vlug daarom daarvan weg. In die meeste gevalle lyk dit ook asof die voëls nie sommer weer terugkeer as hulle eers daardeur afgeskrik is nie.
Die stelsel word in verskeie dele van die wêreld gebruik, byvoorbeeld by lughawens en by industrieë wat gereelde voëlskade ly. Die veelsydigheid van die toestel kan verder gesien word in die Seabird Saver lasersisteem wat in vennootskap met die World Wildlife Fund ontwikkel is.
Die laser is veilig om te gebruik. Dit word toegerus met die BCG se gepatenteerde “Projection Safety System” wat keer dat die laserstraal buite die vooraf geprogrammeerde gebied skyn. Op hierdie manier word die voëls weggehou sonder om hulle te beseer, en word Welgevallen se bure ook nie verontrief nie. Dus bied gevorderde tegnologie ‘n innoverende oplossing vir ‘n basiese probleem.