
Nuwelinge is hier!
Meer as 5 000 nuwelingstudente sak hierdie week op Stellenbosch toe om hul akademiese reis by die Universiteit Stellenbosch (US) te begin.
Die Universiteit se verwelkomingsprogram vir nuwelinge skop amptelik vandag (24 Januarie) om 16:30 af met die Verwelkomingsgeleentheid in die Danie Craven-stadion.
Studente sal onder andere die Universiteit se gelukbringer, Pokkel, ontmoet. Hulle sal ook deur die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, en die voorsitter van die Studenteraad, me Carli van Wyk, toegespreek word.
Hierna sal hulle op die veld bymekaarkom om 'n reuse '2019' te vorm. Dít simboliseer die nuwelinge se inskakeling by 'n nuwe gemeenskap waaraan hulle vir die res van hul lewens sal behoort.
'n Nuwe toevoeging tot die program is 'n optog waaraan nuwelingstudente gaan deelneem. Die nuwe Maties gaan van die stadion tot in Victoriastraat op die kampus stap as deel van 'n 'Droom-lansering' (Dream Launch) wat die begin van die studente se reis om hul drome te verwerklik, simboliseer. Die studente ontvang elkeen 'n kaartjie waarop hulle hul drome kan neerskryf. Hierdie kaartjies sal dan by verskeie punte op die roete, veral in Victoriastraat, geplaas word.
Nog 'n hoogtepunt op die verwelkomingsprogram is die jaarlikse “Vensters" buitelugteater wat op Vrydag, 1 Februarie gehou word. Koshuise en privaat studente-organisasies (PSO's) werk saam om toeskouers met innoverende en skeppende dansoptredes rondom 'n sentrale tema te bekoor.
Klasse neem Maandag, 4 Februarie 'n aanvang.
Die Universiteit se webwerf, www.sun.ac.za, bevat volledige inligting vir voornemende studente terwyl die week se verwelkomingsprogram ook op die US webblad uiteengesit word. Inligting oor onder meer die registrasieskedule, persoonlike veiligheid, vervoer, die biblioteek en gratis skryfadvies is hier beskikbaar.
- Kennisgewings word op sosiale media gedoen via die hutsmerk #HelloMaties
- Hewige verkeer word veral Donderdag op al die hoofroetes na en van Stellenbosch verwag.