
Nuwe Tygermaties pak ‘transformerende’ tog aan
"Vandag onderneem jy 'n opwindende tog van persoonlike ontwikkeling wat werklik transformerend gaan wees," het prof Jimmy Volmink, dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), aan die nuwe eerstejaarstudente gesê tydens sy verwelkomingsrede.
Vandeesweek het 465 nuwe voorgraadse Tygermaties by die bedrywige studentegemeenskap by die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg-kampus aangesluit. Uit hierdie groep is 290 studente ingeskryf vir die MB,ChB (mediese) program, 60 studente begin met hulle BSc in Fisioterapie, 50 studente doen 'n Baccalaureus-graad in Arbeidsterapie, 35 studeer vir 'n BSc-graad in Dieetkunde, en die oorblywende 30 doen 'n Baccalaureus-graad in Spraak-Taal- en Gehoorterapie.
"Julle teenwoordigheid hier vandag is 'n merkwaardige prestasie. Jy is geseën met uitsonderlike vermoëns en is gelukkig om hier te wees," het Volmink gesê en die studente geprys vir die harde werk wat tot hulle keuring vir die onderskeie programme gelei het. Hy het hulle aangespoor om die harde werk voort te sit en te fokus op dít waarvoor hulle hier is.
"As jy jou bes doen sal jy uiteindelik jou doelwit bereik om 'n dokter, 'n fisioterapeut, 'n dieetkundige, of enige ander gesondheidspraktisyn te word. Ons sien uit daarna om deel uit te maak van jou groeiproses en jou by te staan om al die vaardighede te ontwikkel wat jy benodig om jou gekose beroep te beoefen."
Volmink het die studente aangemoedig om diversiteit op die Tygerberg-kampus aan te gryp. "Ons lewens- en leerspasies bevat mense van verskillende rasse, gelowe, etnisiteite en maatskaplik-ekonomiese statusse. Daar is mense van elke gender-identiteit en seksuele oriëntasie en verskillende politieke oortuigings. Sommiges sien hierdie soort diversiteit as 'n bedreiging, maar ons sien dit as 'n voordeel. Ons glo dit bied 'n goeie geleentheid vir ons studente en personeel om hulle begrip te verdiep van mense wat van hulle verskil, om respek te kweek vir mekaar, en gemeenskaplikheid te bou," het Volmink gesê.
Die voorsitter van die Tygerberg Studenteraad, mnr Lee Baatjes, het ook die nuwe studente aangespoor om saam te staan en daarna te streef om die voormalige rektor en vise-kanselier van die Universiteit Stellenbosch, wyle prof Russel Botman, se droom te bewaarheid. Hy wou hê dat die plaaseienaar se seun en die plaaswerker se dogter dieselfde Matie-ervaring moet hê.
"Kom ons beweeg weg van 'n kultuur wat uitsluiting bevorder en verenig in die daarstelling van 'n nie-rassige en nie-seksistiese kampus. Kom ons respekteer mekaar se se kulturele- en geloofsverskille, kom ons bereik die bevryding van 'n nie-diskriminerende kampus," het Baatjes gesê.