
Nuwe tegniek maak sterilisasie veilig vir almal
In Februarie is die fokus op voortplantingsgesondheid. Dit verwys na mense se vermoë om kinders te hê en die vryheid om te besluit wanneer en hoe gereeld hulle dit wil doen. 'n Belangrike kenmerk van goeie voortplantingsgesondheid is om toegang te hê tot veilige en doeltreffende voorbehoeding.
'n Nuwe sterilisasie-tegniek maak hierdie veilige en doeltreffende vorm van voorbehoeding toeganklik vir vroue wat voorheen weens mediese redes nie die operasie kon ondergaan nie.
Die nuwe metode, genaamd histeroskopiese sterilisasie, is 'n nie-chirurgiese prosedure wat slegs standaardpynmedikasie benodig. Dit maak dit moontlik vir vroue wat nie gesteriliseer kon word nie weens die risiko van narkose en buikchirurgie, om ook die prosedure te ondergaan.
Voorheen moes vroue algemene narkose ontvang vir sterilisasie aangesien die Fallopius-buise (wat spermselle na die eierstokke lei) slegs afgebind of geknip kon word deur oopbuik- of minimaletoegangchirurgie.
Maar met histeroskopiese sterilisasie word 'n draad-spoelletjie histeroskopies (via die vaginale opening) binne 'n vrou se Fallopius-buise geplaas terwyl sy wakker is.
"Na sterilisasie werk 'n vrou se baarmoeder soos dit normaalweg sou, en dit is 'n goeie opsie vir vroue wat nie hormone kan gebruik nie," sê dr Judy Kluge van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).
"Hierdie prosedure is baie voordelig. Siektetoestande wat 'n vrou se risiko vir chirurgie en narkose verhoog kan veroorsaak dat 'n swangerskap haar lewe bedreig of haar keuses van voorbehoedmiddels beperk."
Daarby is vroulike sterilisasie 'n goedkoop en praktiese vorm van voorbehoeding wat vroue se kans om swanger te word verlaag tot slegs 0.5%. En met manlike sterilisasie neem die risiko vir swangerskap nog verder af tot 0.15%.
"'n Man wat gesteriliseer is kan seksuele omgang hê net soos wat hy normaalweg sou en kan steeds ejakuleer en 'n orgasme bereik – die ejakulaat sal net geen sperm bevat nie. Manlike sterilisasie word gedoen onder plaaslike verdowing en hou minimale chirurgiese risiko in," verduidelik Kluge, 'n spesialis in gesinsbeplanning.
Anders as ander voorbehoedmiddels, vereis sterilisasie geen verdere besoeke aan gesondheidsentra nie.
Sterilisasie is 'n goeie opsie vir paartjies wat seker is dat hulle nie hulle gesinne verder wil uitbrei nie, maar vir diegene wat moontlik nog kinders in die toekoms wil hê is daar verskeie ander opsies.
"Geen metode van voorbehoeding is 100% veilig vir die voorkoming van swangerskap nie, maar die kanse om swanger te word is baie laag," sê Kluge.
Die voorbehoed-inplanting hou vir drie jaar en verminder die kans vir swangerskap na slegs 0.05%. Die koper intra-uterine apparaat (IUA) hou vir tussen vyf en 10 jaar en verminder 'n vrou se kans vir swangerskap na 0.8%, terwyl die progesteroon-bevattende IUA die risiko vir swangerskap tot net 0.2% verlaag.
Medianavrae
BemarkingskoördineerderMandi Barnard+27 (0)21 938 9505[email protected]Afdeling Bemarking en KommunikasieFakulteit Geneeskunde en GesondheidswetenskappeUniversiteit Stellenbosch
Webwerf: www.sun.ac.za/health Facebook: www.facebook.com/SUhealthsciTwitter: @SUhealthsci