Skip to main content
Nuwe Sentrum vir Sosiale Geregtigheid geskep; prof Thuli Madonsela stigtingsdirekteur

Nuwe Sentrum vir Sosiale Geregtigheid geskep; prof Thuli Madonsela stigtingsdirekteur

Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
25 Oktober 2022

​Die Leerstoel in Sosiale Geregtigheid in die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid is nou die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) met prof Thuli Madonsela as stigtingsdirekteur.

Die stigting van die CSJ is by die 3de Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid op 11 Oktober, die dag voor die 4de Beraad oor Sosiale Geregtigheid, bekend gemaak.

In haar aankondiging van Madonsela as die stigtingsdirekteur het die dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, prof Nicola Smit, gesê die CSJ se missie sal wees om “akademieskap oor, en bewustheid van, sosiale geregtigheid sowel as vaardighede en samewerking op openbarebeleidsgebied in die akademie én die samelewing te bevorder". Sy het bygevoeg dat die CSJ en sy missie deel uitmaak van die Universiteit se strewe na sy restitusiestelling (sien hieronder).

Die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, prof Sibusiso Moyo, het verduidelik hoe die CSJ met die Universiteit se strategiese rigting strook. Sy het gesê die CSJ spruit uit die Universiteit se strategiese navorsingsgebied “Sosiale geregtigheid en ontwikkeling" en is in pas met die strategiese tema “Navorsing vir impak" in die US se oorhoofse plan. Die vestiging van die Sentrum vind dus aansluiting by die US se werk om voortdurend akademiese ruimtes en navorsings- en innovasievennootskappe te skep wat oplossings vir van ons land en vasteland se dringendste uitdagings bied, en om 'n agent te wees vir positiewe verandering wat sosiale geregtigheid bevorder.

Madonsela het haar dank uitgespreek teenoor haar span, die studente-ambassadeurs vir sosiale geregtigheid, die Universiteit, die Regstrustleerstoel en sy finansiers, lede van die Raad van Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid, sowel as die Rektoraat onder leiding van prof Wim de Villiers, wat almal nog altyd getroue ondersteuners was van die Regstrustleerstoel se sosialegeregtigheidsprojekte, waaronder staptogte, berade en konferensies. Sy het ook alle rolspelers bedank wat saam met haar en haar span daarna streef om die grondwetlike vereiste om 'n vreedsame samelewing te skep wat op sosiale geregtigheid berus en waar alle burgers 'n beter lewe kan hê en hulle potensiaal kan ontgin, vinniger te verwesenlik.

Wil voorkeurvennoot wees

Die CSJ se visie is om “'n voorkeurvennoot te wees in sosialegeregtigheidsnavorsing, openbarebeleidsontwerp, -onderwys en -opleiding, en die monitering en evaluering van sosialegeregtigheidsprojekte om hervorming te versnel".

Volgens Madonsela is die CSJ se vlagskipprojek die Musa-Plan vir Sosiale Geregtigheid, wat beoog om samelewings-, korporatiewe en internasionale steun en hulpbronne te werf sodat armoede en ongelykheid vinniger uitgewis kan word. Die Musa-Plan konsentreer op vier gebiede, naamlik:

  • om te sorg dat wetshervorming en beleids-/programontwerp ingestel is op sosialegeregtigheidsuitkomste deur met behulp van datawetenskap en behoorlike dataontleding te keer dat wette, beleide en programme ongelykheid en armoede vererger;
  • om sosiale verantwoordbaarheid en samehang te skep, hoofsaaklik deur regs- en grondwetlike geletterdheid, en gespreksplatforms wat brûe bou;  
  • om by te dra tot die staat se vermoë om grondwetlik en eties te regeer en te lei; en
  • om burgerlike hulpbronne te benut vir inisiatiewe om die beëindiging van armoede te versnel en strukturele ongelykheid teen 2030 uit die weg te ruim. 

“Die Sentrum sal 'n tuiste wees vir alle akademiese programme en sosiale-impakprojekte wat tot dusver deur die Regstrustleerstoel in Sosiale Geregtigheid onderneem is. Boonop sal dit alle toekomstige akademiese navorsing en sosiale-impakwerk van die Regstrustleerstoel behartig," het Madonsela gesê.

Inspirerende videoboodskappe is gespeel waarin die US se Kanselier, regter Edwin Cameron, en die Universiteit se Bedryfshoof, prof Stan du Plessis, hulle steun aan die CSJ toesê. Dié twee, tesame met Nicky Newton-King, 'n prokureur wat in korporatiewe finansies en effekteregulering spesialiseer, die voormalige uitvoerende hoof van die Johannesburgse Effektebeurs en tans ook 'n lid van die US Raad, het aansienlik tot die stigting van die CSJ bygedra. Hulle is ook lede van die Raad van Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid, wat as 'n adviesliggaam en voorspraaknetwerk vir die CSJ se werk dien.

Cameron het gesê hy is trots op Madonsela se interdissiplinêre impak en het sy onomwonde steun vir haar visie uitgespreek. Du Plessis het op sy beurt die gehoor daaraan herinner dat die Universiteit se visie die bevordering van kennis tot diens van die samelewing insluit. “Daarom wens ek graag die Regsfakulteit van die US en die bekleër van die Leerstoel in Sosiale Geregtigheid, prof Thuli Madonsela, geluk met die vestiging van die Sentrum," het hy gesê. “Die Sentrum sal navorsing onderneem, veral op die besonder moeilike terrein van beleidsontwerp, -opleiding en -belanghebbendebestuur, sodat alle Suid-Afrikaners menswaardigheid, geregtigheid en 'n ordentlike lewe kan hê. Soos prof Thuli al telkemale gesê het: Solank daar iewers onreg is, kan daar nêrens volhoubare vrede wees nie."

Samewerking die sleutel

Die CSJ is in wese op samewerking geskoei, in sowel sy akademiese as sosiale-impakwerk, het Smit gesê. “Die Sentrum is 'n akademiese en navorsingsentiteit wat in die Fakulteit Regsgeleerdheid geleë is, maar sy grondwet erken uitdruklik die belang daarvan om met die verskillende fakulteite van die Universiteit, ander hoëronderwysinstellings, en openbare en privaat sowel as plaaslike en internasionale ondernemings en belanghebbendes saam te werk. 

“Die reg is maar net een bousteen om sosiale geregtigheid te verwesenlik," het sy bygevoeg, “en die CSJ sal dus prokureurs, akademici, aktiviste en gemeenskapsorganisasies se pogings help koördineer om dié doel te bereik."

Ook proff Moyo en Madonsela het in hulle toesprake sterk klem gelê op samewerking. Prof Moyo het die kernrol van interdissiplinêre vennootskappe vir impakryke akademiese navorsing benadruk en was veral ingenome daarmee dat die CSJ se werk ook van datawetenskaplikes en ingenieurs sal gebruik maak om beleidsuitkomste te verbeter.

Die bekendstelling van die CSJ het die Beraad oor Sosiale Geregtigheid 2022 voorafgegaan. Vanjaar se beraad het op die tema van restitusie gekonsentreer en die vorige en huidige rol van die sakesektor, media en individue in verskillende fasette van sosiale geregtigheid en menseregte bestudeer. 'n Afsonderlike verklaring daaroor volg binnekort.

Stellenbosch University restitution statement (2018)

Stellenbosch University (SU) acknowledges its inextricable connection with generations past, present and future. In the 2018 Centenary year, SU celebrates its many successes and achievements. SU simultaneously acknowledges its contribution towards the injustices of the past. For this we have deep regret. We apologise unreservedly to the communities and individuals who were excluded from the historical privileges that SU enjoyed and we honour the critical Matie voices of the time who would not be silenced. In responsibility towards the present and future generations, SU commits itself unconditionally to the ideal of an inclusive world-class university in and for Africa.​