Skip to main content
Nuwe Sentrum 'n toonbeeld van samewerking

Nuwe Sentrum 'n toonbeeld van samewerking

Liesel Koch
18 Februarie 2016

Die nuwe Stellenbosch Technology Centre - Laboratory for Advanced Manufacturing (STC-LAM) is 'n toonbeeld van samewerking en vennootskap. Die Sentrum, wat 26 Januarie 2016 ingewy is, is gesetel in die Departement Bedryfsingenieurswese, Universiteit Stellenbosch, en spog met voorpunttegnologie vir navorsing in vervaardigingsingenieurswese.

Om hierdie moderne fasiliteit met sy indrukwekkende versameling op te bou, het tien jaar geneem. Dit het alles in 2006 begin met 'n ooreenkoms wat onderteken is deur die Departement Wetenskap en Tegnologie en die Universiteit Stellenbosch (US) om 'n instituut vir gevorderde gereedskap, the Institute for Advanced Tooling (IAT), by die US te huisves. Die hoofdoel van die IAT was om jong ingenieurs en navorsers te kweek, om steun aan klein, mikro en medium ondernemings te bevorder, om werkgeleenthede te skep en gevolglik ekonomiese groei te stimuleer.

Die IAT se evolusie en omskepping tot die moderne navorsingsfasiliteit wat dit tans is, is moontlik gemaak deur jarelange ondersteuning en kernbefondsing deur staatsdepartemente, soos wat van die Departement Wetenskap en Tegnologie, en die Departement Handel en Nywerheid ontvang is, asook van vennote en organisasies soos die Tegnologie-innovasie-agentskap (TIA), die National Tooling Initiative (NTIP), en die Nasionale Navorsinstigting-geadministreerde THRIP-inisiatief.

Internasionale samewerking tussen die US Departement Bedryfsingenieurswese en sy Duitse vennote het byna 16 jaar gelede ontstaan. Dit het 'n hoogtepunt bereik met die ondertekening van 'n formele ooreenkoms in 2006 tussen die US en die Fraunhofer Gesellschaft in Chemnitz om 'n gesamentlike laboratorium te vestig tussen die Departement Bedryfsingenieurswese en Fraunhofer IWU (Institute for Machine Tools and Forming Tehnology) in Chemnitz op die gebied van vervaardigingsingenieurswese. Samewerking op die gebied van waardetoevoeging tot die gereedskapsindustrie bestaan jare reeds met WBA en Fraunhofer IPT in Aachen. Daar vind ook aktiewe studente uitruiling plaas met die Universiteit van Toegepaste Wetenskappe in Dresden en die Tegniese Universiteite van Dresden en Chemnitz.

By die inwyding van die STC is prof Dimitri Dimitrov, van die Departement Bedryfsingenieurswese by Universiteit Stellenbosch, vereer met 'n gedenkplaat vir sy jarelange bydrae om vervaardigingsingenieurswese in Suid-Afrika te bevorder. Mnr Mike Saxer (masjientegnoloog by die IAT) wat die gedenkplaat aan prof Dimitrov oorhandig het, het gesê: "Dit is deur die inwerkingstelling van fasiliteite soos die STC dat ons in staat is om die basis te verskaf vir gevorderde opleiding, toegepaste navorsing en ontwikkeling, en tegnologieoordrag aan industrie. Ons is in staat om verdere bystand aan klein en medium ondernemings te fasiliteer om sodoende ekonomiese groei te stimuleer en om werkgeleenthede te skep deur die kapasiteit vir innovasie in die vervaardigingsektor te verhoog. Deur goeie samewerking met die staat, akademiese instellings soos byvoorbeeld plaaslike en internasionale universiteite, sowel as die industrie, is ons vol vertroue dat ons ons uiteindelike doel kan bereik om 'n tegnologiesentrum te word waarop Suid-Afrika trots kan wees."

Verskeie belanghebbers het aan die inwydingsprogram deelgeneem. Mnr Vusi Skosana, Hoof van die Tegnologiestasiesprogram van die TIA, het gesê: "Die TIA se mandaat en doelwitte kan nie bereik word deur slegs een intervensie nie, maar deur middel van 'n hele reeks wedersydse verbintenisse en aksies van verskillende programme en inisiatiewe wat mekaar ondersteun. Daarom beskou ons die inwyding van die STC as aanvullend tot die instaatstellende ondersteuningsprogramme van die TIA."

Mnr Dirk van Dyk, hoofuitvoerendebeampte van die NTIP, het die belang van menslike hulpbronne vir die gereedskapsindustrie uitgelig. "Die staat het jare gelede besef dat die ekonomie op die vervaardigingsbedryf gebou moet word. Ons moet 'n nuwe generasie bou ná die 'baby boomers'. Ons kan nie slegs ingenieurs en vakmanne hê nie - ons het alles nodig vanaf intreevlak tot topbestuur."

Prof Hansie Knoetze, dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese, US, het alle belanghebbers, befondsers en samewerkers bedank. Hy het afgesluit met die woorde: "Ons is gereed vir die volgende tien jaar en ek is seker die Sentrum, Departement en Universiteits sal u nie teleurstel nie. Ons sien uit na verdere groei van navorsingsuitsette in dié belangrike veld, tesame met 'n versterking van die industrie."

Die Toolmaking Association of South Africa (TASA) het 'n mandaat aan die NTIP verskaf om kortkursusse vir opleiding te ontwikkel en om sentra daar te stel waar die opleiding kan plaasvind. Met 'n basis van voorlopertegnologie by die STC is dit nou voorwaar ideaal geskik vir die aanbied van opleiding. Daar word in die vooruitsig gestel dat die STC betrokke sal raak by hoofsaaklik die opleiding van gevorderde groepe vir die gereedskapsindustrie. Dit sluit in die aanbied van twee tweejaarprogramme wat bestaan uit pasgemaakte modules vir opleiding van meestervakmanne en meersteroperateurs van masjinerie.

Die voorpunttoerusting in die STC bestaan uit 'n Hermle C40 U 5-as freesmasjien, 'n M2 Laser 3D metaaldrukker, 'n DMG Mori 3-as freesmasjien, 'n Agies Charmilles CUT20 kabel erosiemasjien en 'n Agies Charmilles SP3U elektriese erosiemasjien.

Foto collage:

Foto's bo van links: Prof Corne Schutte (voorsitter, Departement Bedryfsingenieurswese), Mnr Vusi Skosana (TIA), Mnr Dirk van Dyk (NTIP), prof Dirk Landgrebe (Fraunhofer IWU), prof Fritz Klocke (Fraunhofer IPT) en prof Hansie Knoetze (dekaan, Ingenieurswese).

​Twee hooffoto's: Links: Demonstrasies in die nuwe Sentrum;

Regs: Prof Dimitri Dimitrov (links) ontvang die gedenkplaat van mnr Mike Saxer.

Fotograaf: Anton Jordaan (SSFD).