Skip to main content
Nuwe kurrikulum vir BSc Dieetkunde berei studente voor vir gesondheidsorg in die toekoms

Nuwe kurrikulum vir BSc Dieetkunde berei studente voor vir gesondheidsorg in die toekoms

FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Tyrone August
17 Maart 2022

In ooreenstemming met die Universiteit Stellenbosch se program van kurrikulumvernuwing bied die Afdeling Menslike Voeding in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) vanjaar sy hernude BSc in Dieetkunde-kurrikulum vir eerstejaarstudente aan. 

Dit is die hoogtepunt van ʼn proses wat vyf jaar gelede begin is met ʼn omvattende konsultasieprogram met verskeie belanghebbers en wat peilings onder studente en alumni en in die bedryf ingesluit het.

“Die inligting uit hierdie peilings was van deurslaggewende belang sodat ons kon verstaan hoe die vorige kurrikulum ontvang is," verduidelik dr Evette van Niekerk, Voorgraadse Programkoördineerder in die Afdeling Menslike Voeding.

Dit is vroeg in 2019 gevolg deur werksessies met die Afdeling se kernbestuur en daarna met eksterne belangegroepe. “Hierdie werksessies het ʼn deurslaggewende rol in die ontwikkeling van die hernude Dieetkunde-kurrikulum gespeel," sê Van Niekerk.

“Die veranderinge sal die uitbreiding van vakkennis verhoog, asook Dieetkunde-studente se praktiese gereedheid en blootstelling. Ons doelwit is om ʼn geïntegreerde benadering in werking te stel om studente in staat te stel om binne die gesondheidsorgomgewing te funksioneer."

Hierdie doelwit is in lyn met die visie van die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika se Beroepsraad vir Dieetkunde en Voedingkunde om ʼn nuwe professionele persoon te skep – die Geregistreerde Dieetkundige Voedingkundige (GDV).

“Dit kombineer die verskille in die praktykomvang van dieetkundiges en voedingkundiges en het ten doel om praktisyns in staat te stel om beleide en programme te gebruik wat voedingsverwante siektes sal voorkom, behandel en bestuur en die voedingswelstand van individue, die breër gemeenskap en Suid-Afrika se algemene bevolking sal bevorder," sê prof Xikombiso Mbhenyane, Hoof van die Afdeling.

Dr Lynette Daniels, Koördineerder van Gemeenskapsvoeding, verduidelik: “Die nuwe voedingsprofessioneel fokus meer op openbare gesondheidsvoeding. Daarom het ons krediete aangepas om gemeenskapsvoeding in die tweede jaar van ʼn semestermodule na ʼn jaarmodule uit te brei.

“Die nuwe kurrikulum sal dit vir studente moontlik maak om vroeër met praktiese blootstelling by die onderskeie platforms te begin."

Nog ʼn vernuwing is die kurrikulum se benadering tot modules. “Dit is vir ons baie belangrik om ʼn geïntegreerde en holistiese benadering te hê en om modules nie in silo's te sien nie," sê Van Niekerk. “Ons wil goed afgeronde dieetkundiges hê wat in staat is om al die fasette te verstaan wat dit moontlik maak om ʼn goeie, bemagtigde dieetkundige te wees." 

Om met hierdie proses te help word sommige modules met ander departemente gedeel, byvoorbeeld Fisioterapie en Verpleegkunde: “Dit is werklik vir ons belangrik dat ons studente die geleentheid kry om met ander beroepslui saam te werk, die werk waardeer wat deur hulle gedoen word en leer om as ʼn interdissiplinêre span te werk."

Studente sal ook op vele ander maniere by die veranderinge aan die kurrikulum baat vind. Dit sal hulle met bykomende kennis, vaardighede en insig toerus om onafhanklik in die openbare én private sektore te funksioneer om voedingsverwante gesondheidskwessies aan te pak. Dit sal hulle voorts in staat stel om bewysgebaseerde beginsels in dieetkunde en voedingkunde toe te pas en hulle met metodologievaardighede toerus om hulle vir verdere studies voor te berei.

Volgens Van Niekerk is die hoofdoel van die aangepaste kurrikulum “om beroepslui te produseer wat deur lewenslange leer op selfontwikkeling gefokus is en wat professionele en etiese praktykstandaarde sal handhaaf".

Die nuwe kurrikulum inkorporeer ook nuwe onderrigmetodes, veral ʼn groter gemengde benadering. “Ons sluit meer aanlyn materiaal in," sê Van Niekerk. “Dis regtig vir ons belangrik dat studente voorbereid na klasse kom en verantwoordelikheid neem vir die werk wat bespreek sal word."

Daniels beskryf hierdie benadering as selfgerigte leer. “Ons verskaf relevante leesstof en dit word gevolg deur deurtastende klasbesprekings," verduidelik sy. “Dit maak kritiese denke moontlik."

Die kurrikulum maak ook voorsiening vir groter groepinteraksie: “Studente moet in groepe werk. Dis baie belangrik sodat hulle ander kan respekteer, kan saamwerk en kan leer hoe om probleme te temper," sê Van Niekerk.

Die kurrikulum is duidelik die resultaat van ʼn goed beplande en goed uitgevoerde proses. In die eerste jaar word baie van die basiese wetenskappe geïnkorporeer om studente die grondslag te bied wat hulle vir daaropvolgende studiejare nodig het. 

Die tweede en derde jare is deurslaggewend in die ontwikkeling van die student as ʼn dieetkundige en sluit modules soos Terapeutiese en Gemeenskapsvoeding, Voedseldiensbestuur en Navorsingsmetodologie in. Kliniese blootstelling begin in die tweede jaar en word in die meeste modules vervat. In hulle laaste jaar doen studente kliniese rotasies in hospitale en gemeenskapsgebaseerde sentrums.

Volgens Van Niekerk word daarna gestreef “om die opleiding van dieetkundiges, ander voedingsberoepslui en FGGW-studente te herdefinieer en voortdurend te verbeter ooreenkomstig die veranderende vereistes en eise wat hulle in die toekoms te wagte kan wees".

Die belangrikheid om hierdie uitdaging suksesvol die hoof te bied kan nie oorbeklemtoon word nie: “Die opleiding van ʼn professionele dieetkundige is van deurslaggewende belang vir die land se gesondheidsorgwerkmag. Dieetkundiges speel deur voeding- en dieetintervensies ʼn belangrike rol in die aanpak van komplekse gesondheidstoestande."

Dit is hoekom die Afdeling Menslike Voeding daartoe verbind is om leer van gehalte in ʼn dinamiese en ondersteunende leeromgewing te fasiliteer. Die hernude dieetkunde-kurrikulum getuig hiervan.

Onderskrif: Prof Xikombiso Mbhenyane, dr Evette van Niekerk​ en dr Lynette Daniels.