
Nuwe eenheid maak TB-middels veiliger vir kinders
'n Nuwe navorsingseenheid wat daarop toegespits is om TB-middels veilig en toeganklik vir kinders te maak, het onlangs sy deure by die Brooklyn-longhospitaal geopen.
"Dit is 'n kind se mensereg om medikasie te ontvang in 'n dosis wat veilig en doeltreffend is, en in 'n vorm is wat maklik is om te neem," het prof Mariana Kruger, hoof van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid by die Universiteit Stellenbosch (US) gesê tydens die opening van die nuwe Pediatriese Farmakokinetiese (PK) Eenheid by die Desmond Tutu TB-sentrum (DTTS). Volgens haar word heelwat middels in kinders gebruik, alhoewel daar nog geen veiligheidsproewe onder daardie groep gedoen is nie.
"In die TB-veld is kinders onderbedien," het dr Tony Garcia-Prats, die mediese direkteur van die DTTS se Pediatriese PK-eenheid by die Brooklyn-longhospitaal, gesê. "Om toegang tot veilige en doeltreffende behandeling te bewerkstellig, sal hierdie eenheid toetse doen om te bepaal hoe bes om TB-middels te gebruik onder kinders met middelsensitiewe- en middelweerstandige-TB."
Die eenheid is tans betrokke by die eerste studie ooit van 'n nuwe TB-middel (delamanid) onder kinders en hul navorsing het alreeds gehelp om die pediatriese dosisse vir kinder van ses jaar en ouer te bepaal. Hulle sal ook die veiligheid en dosering ondersoek van 'n nuwe TB-middel (bedaquiline) onder kinders, en hul ander navorsingstudies dra by tot die ontwikkeling van kinder-vriendelike TB-middelformulering wat oplosbaar is en aangenaam smaak.
Voorts het die eenheid ook die eerste studie gelei wat navorsing doen oor die gebruik van TB-middels onder klein babas jonger as een jaar. Die studie help om riglyne te bepaal oor behandeling vir en navorsing onder hierdie kwesbare groep. Die DTTS beplan ook 'n studie van die TB-middel bedaquiline onder kinders met middelweerstandige-TB, asook verskeie ander proewe, insluitend die verkorting van behandeling vir kinders met middelsensitiewe-TB.
"Die navorsing wat julle hier doen sal nie net die lewens van Suid-Afrikaanse kinders verbeter nie, maar het 'n wêreldwye impak, aangesien dit internasionale riglyne help bepaal oor die gebruik van hierdie middels . Ons is baie trots op die werk wat die DTTS doen," het prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) gesê.
Prof Anneke Hesseling, hoof van die DTTS en die Direkteur van die Pediatriese TB-program, het die sentrum se sukses toegeskryf aan die sterk vennootskappe met belanghebbendes soos die Wes-Kaapse Gesondheidsdepartement, plaaslike gemeenskappe en ander navorsingsinstansies. Sy het ook erkenning gegee aan die werk wat senior navorsers by die FGGW gedoen het wat die wetenskaplike grondslag gelê het waarop die DTTS en die Pediatriese PK-eenheid gebou is, asook die baanbrekerswerk oor volwasse TB en die ondersteuning aan die pediatriese groep deur TASK Applied Sciences, met prof Andreas Diacon aan die stuur.
"Hierdie nuwe pediatriese eenheid is die hoogtepunt van werk wat oor verskeie dekades gedoen is. Ons staan op die skouers van reuse, en ons is bevoorreg om hierdie reuse steeds by ons te hê en dat ons voortdurend van hulle kan leer," het Hesseling gesê. Om eer te betoon aan die enorme bydraes wat proff Peter Donald en Simon Schaaf tot pediatriese TB gemaak het (beide is NNR A-gegradeerde navorsers en uitgelese professors by die FGGW), is die administratiewe asook die kliniese geboue by die Pediatriese PK-eenheid onderskeidelik na elkeen van hulle vernoem.
"Die voortgesette navorsing by hierdie eenheid, asook die navorsing wat vir die toekoms beplan word, beïnvloed kliniese sorg asook plaaslike en internasionale riglyne so te sê oombliklik, gegewe die groot gaping in navorsing oor die behandeling van veelvoudige middelweerstandige-TB onder kinders en die enorme siektelas van TB onder kinders in die Wes-Kaap. Hierdie eenheid skep 'n betekenisvolle geleentheid om 'n positiewe impak te maak op die lewens van kinders en hulle families wat deur TB geraak word in die Wes-Kaap," het Hesseling gesê.
Caption: Proff Mariana Kruger, Simon Schaaf en Nico Gey van Pittius staan voor die "Simon Schaaf Kliniese Gebou" tydens die opening van die Pediatriese Farmakokinetiese Eenheid.