Skip to main content
Nitiksha laat US-vlag in VSA wapper

Nitiksha laat US-vlag in VSA wapper

Mandi Barnard
06 Oktober 2016

"ʼn Model-student. Ek wens ek het ʼn video van haar gehad sodat ek aan al die ander studente kon wys wat 'aktiewe leer' beteken en hoe dit lyk."

Dit is die woorde wat dr Jonathan Fryer, ʼn professor in chirurgie wat spesialiseer in orgaanoorplanting, gebruik het om Nitiksha Wesley te beskryf nadat sy in Julie ʼn opwindende elektiewe besoek aan Northwestern University (NWU) Feinberg School of Medicine in Chicago, VSA, voltooi het.

Nitiksha, ʼn vyfdejaar- mediese student, sê haar lewe het in dié vyf weke verander en sy skenk nou ernstige oorweging aan ʼn loopbaan in oorplantingschirurgie. "Ek het dadelik gehou van die omgewing, hoe die pasiënte wat op orgaanoorplantings wag behandel word, en om met die personeel te werk en die families te leer ken. ʼn Mens raak regtig deel van ʼn multidissiplinêre span en leer die pasiënte goed ken."

Volgens Nitiksha hanteer die personeel wat binne oorplantingsomgewings werk die pasiënte op ʼn ander manier, wat sy toeskryf aan die interaktiewe verhoudings wat hulle met die pasiënte handhaaf.

Die personeel het ook haar onophoudelike stroom vrae en nuuskierigheid met baie geduld hanteer. "Ek het besluit dat ek slegs een geleentheid het om soveel as moontlik te leer. Ek het die uurlange busrit op pad werk toe en terug gebruik om baie artikels en handboeke te lees die personeel en medestudente genader vir antwoorde op en verduidelikings van alles wat ek nie verstaan nie," het sy gesê.

Nitiksha het ʼn skitterende aanbevelingsbrief van Fryer, wat haar toesighouer by NWU was, ontvang. Hy het haar geprys omdat sy altyd voorbereid werk toe gekom het, baie toepaslike vrae gevra het en naslaanwerk gedoen het oor sake wat op die pasiënte betrekking gehad het. Hy het ook genoem dat sy voorgestelde behandelingstrategieë bevraagteken het en dit tydens die daaglikse saalrondtes geopper het, en ook dat sy die insig en inisiatief getoon het om die opleidingsgeleenthede ten beste te benut.

Een van haar hoogtepunte was ʼn twee-uurlange vlug met die hospitaal se privaatstraler toe die span ʼn skenkingsorgaan in Springfield, Illinois moes gaan haal. Sy het ook ʼn paar maal per motor na die omliggende dorpe gereis om skenkingsorgane te gaan haal, wat haar die geleentheid gegun het om bietjie meer van die land te sien.

Dit kan senutergend wees om internasionaal te reis, veral as dit jou die eerste maal oorsee is. Maar nie vir hierdie energieke en weetgierige jong dame nie. Sy moes al die logistieke reëlings self tref, insluitend haar reis- en verblyfreëlings en die bestuur van ʼn begroting. Sy erken dat sy aan die begin skrikkerig was omdat sy as vrou-alleen moes reis. Sy het egter gou aangepas by die openbare vervoerstelsel en sê dit was vir haar ʼn buitengewone ondervinding om 'as werkende volwassene' werk toe en terug te pendel.

Nitiksha was die eerste student van die FGGW wat gekies is om aansoek te doen vir hierdie elektiewe besoek wat deel gevorm het van ʼn ooreenkoms tussen die US en NWU. Hiervolgens het NWU een vyfdejaar- mediese student geborg vir ʼn elektiewe besoek gedurende die 2016 akademiese jaar.

Die tweeledige keuringsproses het strawwe mededinging behels. Eerstens moes Nitiksha haar klasmaats uitstof vir keuring om aansoek te mag doen, en daarna moes sy teen verskeie internasionale mediese studente meeding om deur NWU aanvaar te word. "Hulle het slegs een internasionale student in elke omgewing aanvaar," het Nitiksha gesê.

Sy moes verder ook ʼn opleidingskursus in algemene voorsorgmaatreëls (Universal Precautions) doen en ook ʼn aanlynkursus oor die VSA se Health Insurance Portability and Accountability Act of 1996 (HIPAA), waarvoor sy punte bo 80% moes behaal.

Fryer het Nitiksha tydens hulle afskeidsgesprek genooi om aansoek te doen vir NWU se nagraadse genootskap in oorplantingsgeneeskunde nadat sy gegradueer en haar internskap en gemeenskapsdiensverpligtinge voltooi het.

"Dit is iets wat ek definitief sal oorweeg. Ek wil regtig graag ʼn loopbaan in oorplantingschirurgie nastreef," het Nitiksha gesê.

Foto: Nitiksha Wesley en lede van die oorplantingspan by Northwestern University op pad om ʼn skenkingsorgaan met die hospitaal se privaatstraler te gaan haal.