Skip to main content
New Yorkse mediakenner bring vaardighede na US se Departement Joernalistiek

New Yorkse mediakenner bring vaardighede na US se Departement Joernalistiek

Corporate Communications and Marketing
23 Junie 2023

​​’n Suid-Afrikaanse mediakenner wat in die Verenigde State gesetel is, het hom by die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Joernalistiek aangesluit as buitengewone professor. Hoewel hy vir die grootste deel van sy akademiese loopbaan oorsee gewerk het, lê prof Sean Jacobs, wat tans as ’n medeprofessor in Internasionale Sake aan die New School in New York verbonde is, se wortels diep ingegrawe in die Wes-Kaap. Hy het nog steeds noue bande met sy geboorteland en hy besoek gereeld sy familie en vriende in Suid-Afrika saam met sy vrou, Jessica Blatt, en hulle twee kinders, Rosa (17) en Leo (13). 

Jacobs het die afgelope twee dekades nou saam met die bekende mediakenner, prof Herman Wasserman, gewerk. Wasserman is aan die begin van die jaar as voorsitter van die US se Departement Joernalistiek aangewys. 

Jacobs en Wasserman het albei hulle joernalistieke loopbaan in die middel-1990’s by Die Burger in Kaapstad begin. “Ek en Herman het ’n lang geskiedenis van medewerking. Ons akademiese loopbane het op dieselfde tyd vlamgevat en in 1995 het ek ’n Fullbright-genootskap ontvang om in die politieke wetenskap aan die Northwestern-Universiteit noord van Chicago te gaan studeer en Herman het met ’n PhD by Stellenbosch begin,” verduidelik Jacobs. “Nadat ons ons PhD’s voltooi het, was ons die redakteurs van ’n bundel essays oor die Suid-Afrikaanse massamedia en popkultuur wat in 2004 verskyn het. Ons het oor die jare aan baie projekte saamgewerk en was gereeld medeskrywers van meningsartikels vir publikasies soos The Washington Post, Globe and Mail in Kanada en die Mail & Guardian, News24 en die Sunday Times in Suid-Afrika.”

Albei akademici het groot lof vir hulle navorsing en publikasies oor die media, demokrasie en die samelewing ontvang. Voordat hy oorsee vertrek het om sy PhD in Politiek by die Universiteit van Londen se Birkbeck-kollege te gaan doen, het Jacobs as ’n politieke navorser by die Instituut vir Demokrasie in Suid-Afrika gewerk. Hy het ’n Statebond-beurs en genootskappe van die New School aan die New York- en Harvard-Universiteit ontvang. Jacobs het tussen 2018 en 2021 in die raad van die Vereniging vir Afrikastudies gedien en hy dien tans in die raad van die Atlantic Fellows on Racial Equality (“Atlantiese Genote oor Rassebillikheid”). Sy boek, Media in Postapartheid South Africa: Postcolonial Politics in the Age of Globalization, is in 2019 deur Indiana University Press en in 2020 deur Wits University Press uitgegee. 

Wasserman sê hy is baie bly dat Jacobs die pos as buitengewone professor aan die US aanvaar het. “Sean se werk oor digitale media in Afrika is grensverskuiwend. Die webwerf wat hy op die been gebring het, Africa is a Country, dien veral as ’n voorbeeld van hoe digitale media innoverend en kreatief gebruik kan word om Afrika-stories te vertel. Sy werk sal ons studente inspireer. Sean geniet groot internasionale aansien as ’n mediavakkundige en kritikus en ek sien uit daarna om nuwe maniere te vind om ons medewerking op die gebied van navorsing uit te brei. Sean bied ook waardevolle skakels met sy akademiese tuiste, die New School in New York, wat ons departement se internasionale pogings tot voordeel sal strek.”

Jacobs sê hy het die Africa is a Country-webwerf in 2009 in die lewe geroep om heersende stereotipes en wanopvattings oor die vasteland uit te daag. Die naam van die gewilde blog is ’n ironiese reaksie op ou en holrug geryde beelde van Afrika. “Ons daag doelbewus ontvangde wysheid oor die vasteland van Afrika en sy mense in die Westerse media uit en destabiliseer dit,” merk Jacobs op. 

Daar is by die gevierde New School, waar hy klasgee, ’n groot klem op en waardering vir die idee van ’n openbare intellektueel, sê Jacobs. “Die New School moedig akademici aan om nie net werk vir akademiese vaktydskrifte te lewer nie, maar om ook hulle navorsing vir die publiek toeganklik te maak in die openbare domein. Ek dink Africa is a Country slaag daarin om die skeidsmuur tussen akademiese skryfwerk – wat ontoeganklik en deurspek met jargon is – en konvensionele joernalistiek af te breek.”

Jacobs het danksy die Africa is a Country-webwerf en medewerking met plaaslike skrywers en intellektueles die afgelope twee dekades op hoogte van die Suid-Afrikaanse media en die veranderinge by die Universiteit Stellenbosch gebly. “Ek het verlede jaar aan die Ubuntu Dialoë-konferensie deelgeneem wat deur die Universiteit Stellenbosch en die Michigan Staatsuniversiteit gereël is. Ek was beïndruk deur die verskeidenheid van mense wat saam met my op die panele was. Ek volg die nuus oor Stellenbosch noukeurig en dit is bemoedigend om te sien hoe die Universiteit ’n groter verskeidenheid idees en mense reflekteer terwyl dit sy eie verlede konfronteer.”

Die US se Departement Joernalistiek word as een van die beste joernalistieke skole in Suid-Afrika beskou en Jacobs sê hy is opgewonde om op hierdie tydstip aan boord te kom terwyl die medialandskap besig is om radikaal te verander. “Ek en Herman het reeds verskeie opwindende projekte en geleenthede vir medewerking bespreek. Met my onlangse besoek aan die US-kampus het die joernalistiekstudente se deelname en weetgierigheid my beïndruk. Die beste joernaliste is mense met ’n stewige grondslag in vakgebiede soos die politiek, ekonomie en sosiologie en wat tegnologie goed verstaan. Dit is uiters belangrik om mediapraktisyns op te lei wat eties en akkuraat verslag kan doen oor wat in die wêreld aan die gang is.” 

Jacobs sê hy sien uit daarna om aan projekte mee te werk wat die veranderende Suid-Afrikaanse medialandskap in oënskou neem en ontleed. “Ons verken ook interessante vennootskappe en uitruilprogramme vir studente. Nog ’n prioriteit is om die gaping te oorbrug tussen die joernalistiek en ander vakgebiede wat nie histories met mediastudies binne die universiteitskonteks omgegaan het nie. Ek en Herman is albei baie lief vir gemeenskapsnuus en verslaggewing op voetsoolvlak wat joernalistiek met gehore verbind. Dit is ’n opwindende tyd om by die US betrokke te raak. Ek is op ’n plek in my loopbaan waar ek voel ek waarde kan toevoeg en uitruil in leer en onderrig kan fasiliteer.”