
Navorsing maak Spele veiliger vir Paralimpiese atlete
Die Universiteit Stellenbosch (US) is aan die spits van ʼn groep internasionale navorsers wat die beserings en siektes wat by die Paralimpiese Spele opgedoen word, sal bestudeer om toekomstige byeenkomste veiliger vir atlete te maak.
Die Instituut vir Sport- en Oefeninggeneeskunde (ISOG) by Maties het ʼn memorandum van verstandhouding met die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPK) gesluit om data in te samel en te ontleed oor beserings en siektes wat opgedoen word by die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro, asook die daaropvolgende Winter- Paralimpiese Spele in 2018 in Pjongjang (Noord-Korea) en die Paralimpiese Spele in 2020 in Tokio (Japan).
"Deur ʼn groot groep atlete soos hierdie te bestudeer — meer as 3 500 atlete gaan na verwagting aan die Spele in Rio deelneem — kan ons risikofaktore vir siektes en beserings identifiseer, wat ons in staat stel om voorsorgmaatreëls in werking te stel," sê prof. Wayne Derman, direkteur van die ISOG aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.
Die navorsing sal nie net op sportverwante beserings fokus nie, maar alle beserings en siektes wat tydens die Spele opgedoen word en ʼn impak op sportprestasies kan hê, sal aangeteken word. "'n Besering of siekte hoef nie met sport verband te hou om ʼn impak op ʼn atleet se prestasie te hê nie. Tandpyn kan jou byvoorbeeld blitsig van ''n held tot ʼn nul op ʼn kontrak' omskep en jare van voorbereiding tot niet maak," sê Derman. Hy was by soortgelyke navorsing betrokke tydens die Winter- Paralimpiese Spele in 2014 in Sotsji en die Londense Paralimpiese Spele in 2012.
Data vir die studie word deur ʼn webgebaseerde stelsel wat deur ISOG ontwerp is, ingesamel. Al die dokters wat die atlete na die Spele vergesel sal die beserings en siektes aanteken. Benewens dat dit die aantal atlete wat geraak word meet, hou die stelsel ook rekord van die tydsduur en ander besonderhede van die beserings of siekte, en meld dit aan in ʼn aantal "atleet-dae". Hierdie inligting gee insae in die graad en erns van ʼn siekte/besering wat in die tydperk van die Paralimpiese Spele opgedoen word.
Soortgelyke studies by twee van die vorige Speles het interessante uitslae gelewer. Luidens ʼn studie wat in die British Journal of Sports Medicine (2013:47) verskyn het, het atlete wat deelgeneem het aan 5-aan-'n-kant-voetbal ("blinde sokker"), kragoptel en doelbal die meeste beserings van al die sporte by die 2012 Londen Paralimpiese Spele opgedoen.
"Die meeste beserings wat met 5-aan-'n-kant-voetbal opgedoen is, het verband gehou met vuilspel, en die liggaamsdeel wat die meeste beseer is, was die onderste ledemate," sê Derman, wat betrokke was by die navorsing.
Die algemeenste siektes tydens die 2012 Londen Paralimpiese Spele het die lugweg- en spysverteringstelsels, asook die vel geraak.
Derman het die navorsing gelei wat die voorkoms van beserings en siekte tydens die 2014 Sotsji Winter- Paralimpiese Spele ondersoek het. Hierdie navorsing is onlangs gepubliseer in ʼn twee-deel reeks in die British Journal of Sports Medicine (2016).
"Die navorsing het getoon dat Paralimpiese atlete 'n groter risiko loop vir beserings en siektes as Olimpiese atlete, en ook dat die Winterspele gevaarliker is as die Somerspele," sê Derman. Die voorkoms van beserings wat opgedoen is tydens die Winterspele (26.5 beserings/1000 atleet-dae) is meer as dubbel die voorkoms by die Somerspele (12.7 beserings/1000 atleet-dae).
Daar was ʼn aansienlik hoër voorkoms van beserings (41.1 beserings/1000 atleet-dae) met Alpe-ski/sneeubord tydens die 2014 Winterspele by Sotsjii in vergelyking met vorige Winterspele. Die navorsers skryf die hoë aantal beserings toe aan warm weerstoestande wat die sneeu laat smelt het.
"Ons data lig sportsorganisasies, afrigters en atlete in oor die risikofaktore wat verband hou met wintersport vir atlete met gestremdhede. Die identifisering van risikofaktore lê die grondslag vir programme om beserings te voorkom by die atleet, asook op die vlak van organisasies," sê Derman.
MedianavraeBemarkingskoördineerderMandi Barnard+27 (0)21 938 9505[email protected]Afdeling Bemarking en KommunikasieFakulteit Geneeskunde en GesondheidswetenskappeUniversiteit Stellenbosch
Webwerf: www.sun.ac.za/health Facebook: www.facebook.com/SUhealthsciTwitter: @SUhealthsci