
Nagraadse student aanvaar vir gesogte internasionale opleidingsprojek
Khethelo Xulu, 'n PhD-student in Psigiatriese Genetika, is as beurshouer deur die Tirisano-opleidingsprojek (TOP) van die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles (UCLA) aanvaar.
Xulu is deel van ʼn navorsingspan oor posttraumatiese stressteuring wat onder die leiding staan van prof Soraya Seedat. Seedat is die houer van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Posttraumatiese Stressteuring wat gehuisves word binne die Departement Psigiatrie aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW).
Xulu se navorsing behels die studie van biologiese merkers vir aggressiewe gedrag en spesifiek die studie van epigenetiese veranderings (DNS-metilering).
TOP is 'n samewerkingsprogram tussen UCLA en verskeie Suid-Afrikaanse universiteite en instansies, wat ook kundiges van die Universiteit Stellenbosch (US), die Universiteit van Kaapstad (UK), die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) betrek.
Dit is 'n inisiatief om navorsingskapasiteit oor chroniese stres en nie-oordraagbare geestesversteurings by Suid-Afrikaanse nagraadse studente en vroeë loopbaan-praktisyns in geestesgesondheid te ontwikkel.
"Ek het vir hierdie program aansoek gedoen omdat dit 'n uitstekende geleentheid is om aan die internasionale navorsing oor geestesgesondheid blootgestel te word," het Xulu gesê. "Ek gaan toegang hê tot 'n wêreldklasnavorsingsomgewing en -laboratoriums." Sy hoofdoel is om deur die wetenskaplike toepassing van genetika en molekulêre biologie insig in en begrip oor geestesversteurings op te doen.
Die beurs bied verskeie opleidingsinisiatiewe in Suid-Afrika en Los Angeles, onder meer jaarlikse werkswinkels wat deur UCLA in Suid-Afrika gereël word en 'n intensiewe opleidingsperiode van drie maande in Los Angeles. Gedurende die tydperk by UCLA sal hy inskryf vir vier kursusse met ooreenstemmende laboratoriumwerk, wat 'n teoretiese grondslag sal bied om navorsing te doen met die klem op praktiese toepassings. Kandidate sal verder oor 'n tydperk van twee jaar deur beide 'n plaaslike en ʼn "afstandsmentor" opgelei word.
Xulu het sy voorgraadse studie aan die Universiteit van Zoeloeland voltooi en daarna Wes-Kaap toe getrek om sy Honneurs- en Meestersgrade aan die UK te voltooi. "Ek het na Kaapstad verhuis omdat ek myself wou uitdaag," het Xulu sy besluit verduidelik. "As jy jouself wil verbeter, moet jy met goed-opgeleide mense meeding, maar die belangrikste beweegrede was dat ek wou leer."
Hy het in 2014 vir 'n PhD-graad in Psigiatriese Genetika aan die US ingeskryf. "Ek het net holisties in genetika belang gestel en toe gehoor van 'n projek by die US wat neurogenetika en neurowetenskap behels het," het hy gesê. "Dr Sian Hemmings was besig met uitstekende werk in hierdie veld en ek het weer eens die geleentheid gesien om deur die bestes in dié veld opgelei te word."
Hy het 'n passie vir mentorskap en is by verskeie uitreikprogramme in sy gemeenskap betrokke. "Ek is nie net akademies ingestel nie," het hy gesê. "Ek stel ook baie belang om oplossings vir die land se sosio-ekonomiese probleme te vind. Daarom is ek betrokke by buitemuurse aktiwiteite soos die Magaeng Developers for Science and Engineering (MDSE) en die Dikakapa Everyday Heroes (DEH). Hierdie inisiatiewe behels motiverings- en mentorskapprogramme vir leerders in die omgewing van Kaapstad. Hy is ook betrokke by die Obuka Traditional Authority in Empangeni, KwaZulu-Natal en die Seabe Village in Mpumalanga.
* Prof Soraya Seedat is die houer van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Posttraumatiese Stressteuring wat gehuisves word deur die Universiteit Stellenbosch, befonds word deur die Departement van Wetenskap en Tegnologie en geadministreer word deur die Nasionale Navorsingstigting.
Foto: Khethelo Xulu besig in die laboratorium met die voorbereiding van monsters
Hierdie artikel het in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se digitale publikasie, VIVUS, verskyn. Besoek www.sun.ac.za/FGGWpublikasies om in te teken.