Skip to main content
ʼn Dag in die lewe: Zanele Mdodana

ʼn Dag in die lewe: Zanele Mdodana

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
11 Mei 2023

​Sport was nog altyd Zanele Mdodana se eerste liefde en dit is hoekom sy die geleentheid aangegryp het om hoofafrigter van Maties Netbal te word toe dié pos vir haar aangebied is. Wanneer sy nie afrig of na die welstand van haar spelers omsien nie, vervolmaak sy haar passies op die baldansvloer.

Ons het Mei met die gedenking van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die Universiteit Stellenbosch (US). In hierdie onderhoud vertel Mdodana ons meer van haar werk.

Wat behels jou rol by die US?

Ek is die hoofafrigter van Maties Netbal en is verantwoordelik vir die holistiese prestasie van al die Maties-netbalspanne. Die eerste span neem aan die ligas van Universiteitsport Suid-Afrika en Varsity-netbal deel. Ek is verantwoordelik vir die monitering van die spelers, wat hulle akademiese prestasie, emosionele welstand en vertoning op die baan insluit. My belangrikste rol is om ʼn omgewing te skep waarin ons spelers kan floreer terwyl hulle die studentelewe ervaar.

Hoe lyk ʼn tipiese werkdag?

Ek doen van 10:00 tot so 15:30 posisionele werk met my spelers. Die aanvallers, verdedigers en doelskieters kom later in vir individuele posisionele werk en van 17:00 tot 19:00 is daar ʼn spanoefening. Ek bestee een dag per week aan administratiewe werk.

Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?

Ek het netbal gespeel vandat ek 10 jaar oud was en het elke provinsiale en nasionale ouderdomsgroep verteenwoordig. Ek is in 2005 vir die Spar Proteas gekies en is in 2012 as kaptein aangewys. Ek het in 2015 uitgetree.

Ek het ʼn BTech in Sportbestuur verwerf en nege jaar lank as ʼn sportbestuurder gewerk. Sport was dus nog altyd my eerste liefde. Ek het skoolspanne in Gqeberha afgerig, asook provinsiale spanne in Gqeberha en die Kaapse Wynlande. In 2017 het ek die geleentheid om hoofafrigter van Maties Netbal te word met altwee hande aangegryp. Ses jaar later is dit die uitdagendste, dog mees vervullende werk.  

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek is mal oor afrigting en om my spelers te bemagtig. Dit beteken ek kan toekyk hoe hulle beter netbalspelers word, maar ook beter mense. Dit is lonend om my spelers te sien gradueer of hulle land op ʼn nasionale vlak verteenwoordig. Ek vestig ʼn sterk en standhoudende band met my meisies. My lewensleuse is dat ʼn goeie afrigter die spel verander, maar ʼn uitstaande afrigter ʼn lewe.

Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?

 Ek is ʼn uitstekende baldanser en ek is mal oor dans.