Skip to main content
​'n Dag in die lewe van: Thulani Hlatswayo

​'n Dag in die lewe van: Thulani Hlatswayo

Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
19 Mei 2022

​As werknemer in Studenteregering en assistentkoshuishoof van Metanoia, vervul Thulani Hlatswayo 'n kernrol om studente op hulle transformerende reis aan die Universiteit Stellenbosch (US) by te staan. Gelukkig is dít 'n taak waarvoor sy eie aktiewe betrokkenheid by verskeie organisasies en programme as student hom goed voorberei het.​ 

Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hul belangrike bydrae tot die Universiteit. Thulani, wat hom in 2019 as permanente personeellid by die US aangesluit het, het ons vrae oor sy werk beantwoord.

Wat behels jou rol by die US?

My primêre rol is dié van studentekoördineerder in Studenteregering in die Sentrum vir Studenteleierskap, Ervaringgerigte Opvoeding en Burgerskap. Daarbenewens dien ek as assistentkoshuishoof van Metanoia. Albei rolle berus op dienslewering aan die studentegemeenskap, en 'n fundamentele vereiste is om studente in hulle ervaringsleer buite die klas (in die ko-kurrikulum) te ondersteun en te lei. Sodoende skep ons 'n transformerende studente-ervaring en 'n vriendelike, ondersteunende en waardegedrewe leefomgewing weg van die huis.

Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?

Wanneer jou werk om mense, en veral studente, draai, is dit moeilik om 'n 'tipiese dag' te beskryf; elke dag is anders. Afgesien van die administratiewe take verbonde aan die pos, is daar 'n voortdurende behoefte aan skakeling, probleemoplossing, 'n soeke na oplossings en die skep van verandering. Die werk is opwindend juis omdat dit so veranderlik is. 'n Mens moet op jou voete kan dink en bereid wees om sekere praktyke te leer, af te leer en wéér te leer.

Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei?

Ek het 'n BA in Sosiale Dinamiek verwerf. Die kwalifikasie handel oor die geesteswetenskappe, veral teen die agtergrond van die Suider-Afrikaanse werklikheid. Ek is tans ingeskryf vir 'n HonsBCom in Publieke Administrasie. My baccalaureusprogram het my meer analities help dink oor samelewingskwessies, wat my in staat stel om tot gesprekke oor beleidvorming, -implementering en -hersiening by te dra.

Ek het ook aan 'n aantal ko-kurrikulêre ontwikkelingsgeleenthede deelgeneem en in verskeie studenteleierskapstrukture gedien. Dít het my vaardighede geleer soos skakeling, onderhandeling, kritiese denke, interpersoonlike vaardighede, waardegedrewe leierskap, burgerlike geletterdheid sowel as projek- en hulpbronbestuur. Ek het self gegroei as 'n leier, en kan nou ook ander se leierskap beïnvloed.

Ek is 'n passievolle kampvegter vir sosialegeregtigheidskwessies wat met studentetoegang en -sukses verband hou – van voedselsekerheid tot akademiese hertoelating, historiese skuld, studentehuisvesting en die US se Taalbeleid. Hierdie kwessies is vir my belangrik as gevolg van my eie ervaring toe ek in 2014 by die US aangekom het. Ek het van Gauteng af gereis sonder enige sekerheid dat ek toelating tot die Universiteit sou kry. Nietemin was ek vasberade om toegang te verkry, selfs al was dit dalk nie destyds 'n bevorderlike ruimte vir swart mense om te floreer nie. In my strewe om grense te versit, het ek verskeie projekte ontwikkel om toegang en sukses te verbeter vir studente wat uit benadeelde omgewings, waaronder sowel landelike gebiede as townships, na die US toe kom. Een so 'n inisiatief is die werwingsveldtog via die Akademiese Belangeraad. Ek het ook 'n werksessie oor die registrasieveldtog aangevoor wat studenteleiers en personeellede toerus om gedurende die registrasietydperk saam te werk en 'n ekosisteem van ondersteuning te voorsien.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Dit is interessant om meer uit te vind oor die vorige ervarings wat mense op 'n sekere manier laat optree. Ons het almal 'n verhaal om te vertel, en sodra ons met ons verskillende narratiewe byeenkom, skep ons 'n ruimte met meer geleenthede vir kreatiwiteit, transformasie en ontwikkeling. Ek geniet dit om by my kollegas en die studente te leer, en om aan projekte te werk wat my met verskillende mense in aanraking bring sodat ek verskillende sienings kan hoor. Ek waardeer my persoonlike ontwikkeling vandat ek by die US aangekom het, nie net as student en studenteleier, maar ook nou as werknemer. En ek geniet dit om aan beleidvorming- en beleidhersieningstaakgroepe sowel binne as buite my omgewing deel te neem, want op dié manier kan ek die US sy visie en missie help bereik.

Vertel ons iets interessant van jouself wat min mense sou verwag?

Ek het nie altyd 'n oplossing vir alles nie. Ek probeer so proaktief moontlik wees, maar nou en dan moet ek myself moed inpraat om my persoonlike vrese opsy te skuif en my plek as 'n doeltreffende US-werknemer vol te staan.

​Fotograaf: Stefan Els