
'n Dag in die lewe van: Japie Kotze
Met meer as 6 000 werksdae by die Universiteit Stellenbosch (US) op sy kerfstok, begin 'n dag in die lewe van Japie Kotze steeds min of meer dieselfde: Hy hanteer dringende e-posse oor 'n koppie espresso. Maar moenie dat die eenvoud jou flous nie. As direkteur van Vergoeding en Voordele in die Afdeling Menslike Hulpbronne (MHB), is Japie se werk om personeel se finansiële sake te bestuur allesbehalwe kinderspeletjies.
Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Lees gerus ons onderhoud met Japie hieronder.
Wat behels jou rol by die US?
Ek is verantwoordelik vir die portefeulje Vergoeding, Voordele en Administrasie in MHB. 'n Groot deel van my werk en verantwoordelikheid is om die Universiteit se aftreefonds (SURF) te bestuur, waarvoor ek ook as hoofbeampte optree. Die waarde van die fonds staan tans op meer as R5 miljard. Vir die meeste US-werknemers is SURF hulle enigste bron van inkomste ná aftrede. Die afgelope paar jaar het die wetsvereistes hand oor hand toegeneem. Waar ek grootgeword het, was daar soveel mense wat nie waardig kon aftree nie en op staatstoelaes of finansiële bystand van familielede moes staatmaak. Ek wil nie hê dít moet met enige US-werknemer gebeur nie.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?
Ek begin altyd die dag met 'n espresso of twee en skenk dan aandag aan e-posse wat onmiddellike optrede verg. Ek probeer dele van die dag opsysit om versoeke te hanteer en projekspertye te haal. Heelwat tyd word ook bestee aan beplanning en 'n aansienlike klomp vergaderings. Ek glo kommunikasie en 'n behoorlike, goed gestruktureerde werksrooster is noodsaaklik. Die werk is siklies, so dinge tel normaalweg spoed op nader aan die einde van die jaar met die herbevestiging van voordele, SURF-raadsvergaderings en personeelaftredes, wat meestal in Desember plaasvind.
Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei?
Ek het HonsBCom aan die US studeer en daarna vir 'n paar jaar in die privaat sektor gewerk. Later het ek 'n werksaanbod by die US aanvaar. Ek het aanvanklik in Finansies gewerk en daarna na MHB oorgeskuif. Baie van die werk hou met finansies verband, soos vergoedingstandaardisering sowel as voordele en administrasie. Selfs my opleiding in beleggingsbestuur, wat deel was van my honneursstudie, kom nou goed te pas in my rol as SURF-hoofbeampte.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Dat ek werknemers en hulle afhanklikes met lewensveranderende voordele kan bystaan, en die bevrediging wat 'n mens kry as jy uittredende werknemers se aftreevoordele aan hulle voorlê. Met die Covid-19-pandemie die afgelope twee jaar moes die span alles in die stryd werp om die skerp toename in sterfte-eise te hanteer, maar ons het staande gebly. Dit was 'n moeilike tyd met baie druk. Ek kan net dankie sê aan my kollegas, wat werklik hulle uiterste bes gedoen het, en aan die bestuur vir hulle ondersteuning toe ons by tye gewoon nie die spertye kon haal nie. Ek werk saam met 'n ongelooflike MHB-span op wie ek werklik kan staatmaak.
Vertel ons iets interessant van jouself wat min mense sou verwag?
Ek het aan die beste universiteit in Suid-Afrika studeer. Ek is 'n trotse Matie en het in Helshoogte-koshuis gewoon. Ek is ook baie lief vir reis, veral in Europa, en was bevoorreg om voor my kind se geboorte baie te kon reis. Boonop was ek 'n kranige langafstandatleet, en ek glo steeds in gereelde oefening. Ek geniet deesdae fietsry, veral bergfiets, want ons is geseën met soveel fantastiese fietsryroetes in die Wes-Kaap.
Fotograaf: Stefan Els