Skip to main content
'n Dag in die lewe: Peter Kirsten

'n Dag in die lewe: Peter Kirsten

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
17 Mei 2023

Senior menslikehulpbronnepraktisyn Peter Kirsten help personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) om vir hulle toekoms te beplan, maar wanneer hy die geleentheid kry om te ontspan, kyk hy graag na geskiedkundige dokumentêre programme om lewenslesse uit die verlede te put.

Ons het Mei met die viering van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die Universiteit. In hierdie onderhoud vertel Kirsten ons meer oor sy werk.

Wat behels jou rol by die US?

As Senior Menslikehulpbronnepraktisyn: Werknemervoordele hanteer ek 'n wye spektrum van kliënte, insluitende personeel, afgetredenes, finansiëlediensverskaffers, om net 'n paar te noem. Dit is my plig om te verseker personeel is op hoogte van die personeelvoordele wat die US bied en om gesonde ondersteuning aan derde partye te bied wanneer hulle spesifiek op aftredebeplanning fokus. Ek werk saam met 'n toegewyde, gemotiveerde en vaardige span wat kwessies soos die afsterwe van 'n personeellid, kind of eggenoot op 'n gepaste manier hanteer.  

Hoe lyk 'n tipiese werkdag?

Aangesien ons kliënte se behoeftes ons dag bepaal, is elke dag anders en vol uitdagings. Sommige dae voel jy in beheer en die meeste van die tyd is jy nie.

As ek 'n tipiese dag moet beskryf, sal dit bestaan uit verskeie e-pos- en telefoniese navrae, instapkliënte, afsprake oor werknemer-spesifieke voordele wanneer 'n kliënt daaraan dink om die Universiteit se diens te verlaat en interne en eksterne vergaderings oor prosesse, protokols en kwessies wat met werknemervoordele verband hou.

Hoe het jou opleiding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?

Ek is gebore en getoë op Stellenbosch en my kennis oor die plaaslike kultuur maak my werk baie makliker.

My 20 jaar by die US het vir my die institusionele kennis gegee wat ek nodig het om in my rol te floreer en te groei. Omdat ek al in verskeie onderafdelings in Menslike Hulpbronne gewerk het, het ek al die veelsydige kennis wat nodig is om 'n holistiese diens te lewer ten opsigte van werknemervoordele.

Ek dien al vir meer as ses jaar as 'n trustee van die Universiteit Stellenbosch Aftredefonds wat baie help. Ek voel geëerd dat die lede my verkies het om na hulle behoeftes op die Raad van die fonds om te sien.

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Waar begin ek? Om maar net 'n paar te noem: Ek is baie lief vir mense en om met hulle te skakel. Ek konsulteer daagliks met gesinne in hulle tyd van rou; gelukkige personeel wanneer hulle aftree, aangestel of bevorder word; en oningeligte of verwarde personeel wat bekommerd is oor hulle werknemervoordele. 'n Vriendelike woord van waardering ná die tyd maak dit alles die moeite werd. Veral wanneer 'n afgetredene, of enige kliënt, my jare ná ons eerste ontmoeting kontak om hulle dank vir my hulp uit te spreek.

Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?

Ek is baie lief vir die buitelewe, veral wanneer daar 'n braai of potjiekos by betrokke is, en om tyd saam met my gesin en vriende deur te bring. Ek hou daarvan om geskiedkundige en opvoedkundige dokumentê​re programme te kyk, gholf te speel en om lang gesprekke met my vrou en kinders oor alledaagse dinge te voer.

Wêreldgeskiedenis fassineer my. Ek wil altyd weet waarom sekere besluite in die verlede geneem is. Op 'n manier leer ek daaruit en pas ek daarvan toe op my lewe.

Fotograaf: Stefan Els