Skip to main content
MOVING FORWARD TOWARDS A MEANINGFUL IMPACT

MOVING FORWARD TOWARDS A MEANINGFUL IMPACT

Prof Hester C Klopper, Deputy Vice-Chancellor: Strategy and Internationalisation​
28 April 2021

​Ons sê gereeld ons leef in 'n immer veranderende wêreld, maar COVID-19 en die gevolglike samelewingsveranderinge wat nasies wêreldwyd nou ervaar, wys presies hoe waar dié afgesaagde uitdrukking is. Van die sake- tot die hoëronderwyssektor moes alle instellings by etlike veranderinge aanpas, en slegs die soepelstes kon in so 'n snel veranderende omgewing floreer.

Deur scenariobeplanning te onderneem en op belanghebbendes se behoeftes en uitdagings te reageer, het die Universiteit Stellenbosch (US) voortgebeur, en selfs in 2020 ons plek op Times Higher Education se ranglys vir ontwikkelende ekonomieë verbeter.

Baie het weliswaar sedert ons vorige nuusbrief van November 2020 verander. Suid-Afrika het met die jaarwisseling 'n vernietigende tweede vlaag koronavirusinfeksies beleef. Ons het nietemin sedertdien goed herstel. Hoëronderwysinstellings is weer oop, en die US het in Maart sy studente op kampus terugverwelkom, hoewel streng COVID-19-protokolle geld.

Ons kampusaktiwiteite word in baie opsigte, en stadig maar seker, hervat. Waar die kampus in 2020 grotendeels verlate was, is studente nou weer in ons universiteitsdorp se eikelanings te sien, almal met maskers en op 'n veilige afstand van mekaar. Klasse het begin en koshuise is oop, maar ook hiér is streng protokolle van toepassing om te sorg dat ons kampusgemeenskap veilig bly.

Ons volg 'n hibridiese onderrig-en-leermodel, so klasse word in (halfvol) lesingsale sowel as aanlyn aangebied. Ons navorsers gaan voort om aan praktiese oplossings vir ons huidige samelewingsuitdagings te werk, en om plaaslik én internasionaal 'n impak te hê.

Noudat Suid-Afrika se grense weer oop is, het die US internasionale studente en kollegas verwelkom, en kan ons voortgaan met ons werk om van aangesig tot aangesig sowel as in aanlyn forums verhoudings met ons gewaardeerde vennote te bou. Daarom verwag ons dat internasionalisering by die US in 2021 slegs vorentoe kan beweeg om 'n sinvolle impak te hê.

  • Prof Hester C Klopper, Viserektor: Strategie en Internasionalisering