Moenie die hond se aandag aflei nie … en ander lesse uit Lei met Gestremdheid
Het jy geweet dat wanneer jy iemand teekom wat blind is, jy jou daarvan moet weerhou om aandag aan hulle gidshond te gee? Hoewel dit 'n natuurlike reaksie mag wees om die hond te streel, is die hond eintlik besig om te werk en tensy die eienaar jou toestemming gee, is dit nie 'n goeie idee om die dier se aandag af te trek nie.
Dit is maar een van vele wenke oor hoe om met mense met gestremdhede om te gaan wat personeel en studente van die Universiteit Stellenbosch (US) in die gewilde Lei met Gestremdheid-kursus kan leer wat op 2 Augustus begin.
Die ses weeklikse sessies van die gratis kursus, aangebied deur Lizelle Apollis en Luigia Nicholas van die US se Eenheid vir Gestremdhede, sal tot vroeg in September duur.
Nicholas het hope ervaring daarin om mense sensitief te maak vir die behoeftes van die gestremde gemeenskap. Sy moes self leer om aan te pas en te volhard. Sy is reeds op 'n jong ouderdom deur Stargardt se siekte en Fuchs-uveïtissindroom geaffekteer en haar sig het met die verloop van tyd geleidelik versleg. Nicholas het egter nie toegelaat daar haar gestremdheid haar lot bepaal nie en het eerder uitdagings omarm en maniere gevind om uit te blink in haar toegewydheid daaraan om ander te bemagtig. Sy het 'n BCom-graad in bemarking aan die US voltooi en in haar nagraadse studie op gestremdheid- en rehabilitasiestudie gefokus.
Haar geliefde hond, Haiku – 'n immer getroue metgesel wat haar help om haar pad in die buitewêreld te vind, vergesel haar waar sy ook al op kampus gaan. Die eerste keer wat sy Haiku saamgeneem het om te gaan inkopies doen, was moeilik, maar het ook tot 'n openbaring gelei, vertel Nicholas. “Dit het gevoel asof die hele winkel na my staar. Dit het my onseker laat voel en het my ontmoedig om weer winkel toe te gaan. Ek moes noodgedwonge 'n besluit neem – óf ek voel jammer vir myself en aanvaar my lewe soos dit is, óf ek veg om 'n verskil te maak.
“Nadat ek US toe gekom het, het ek met ander studente met verskillende gestremdhede begin omgaan. Dit het my laat voel ek behoort iewers en ek het gou besef ek is nie die enigste mens wat met kwessies van aanvaarding sukkel in 'n samelewing wat nie by my behoeftes aangepas het nie.
“Ek kan danksy my eie gestremdheid as 'n visuele gestremde persoon en 'n voormalige studenteleier by die US uit my eie, persoonlike ondervinding put wanneer ek met studente ontmoet. Dit gee my 'n beter begrip van waardeur hulle gaan. Dit maak dit ook vir my makliker om voorbrand by personeel te doen vir studente-insluiting, aangesien ek eerstehands ondervind het hoe dit voel om uitgesluit te wees en ek kan verduidelik hoe dit iemand sal laat voel en waarom dit belangrik is om inklusief te wees," verduidelik Nicholas.
Die Lei met Gestremdheid-program is in 2018 deur Apollis ontwikkel. Sedertdien help Nicholas om te verseker dat die inhoud toepaslik is vir die behoeftes van studente op kampus.
Wanneer sy die etiket van die hantering van mense met gestremdhede behandel, is Nicholas goed ingelig, vol deernis en geduldig, maar ook reguit oor die moets en moenies: Vra altyd eers voordat jy 'n gestremde persoon help. Moenie hulle bejammer of neerbuigend wees teenoor hulle nie. Praat direk met die persoon.
Moenie aan iemand se mobiliteitstoerusting raak nie.“Die goue reël is dat gestremde mense dieselfde respek as enigiemand anders nodig het," sê Nicholas. “Moenie net aanneem dat iemand met 'n waarneembare gestremdheid hulp nodig het nie; bied eerder hulp aan deur oop frases soos 'vra gerus indien jy enigiets nodig het' te gebruik – dit open die deur sonder om 'n aanname oor hulle onvermoë te maak."Die doel van die Lei met Gestremdheid-program is om bewustheid oor gestremdheidsverwante kwessies te skep en om deelnemers met die vaardighede toe te rus om 'n inklusiewe ruimte vir mense met gestremdhede te skep.
“Die program is op studente gerig wat 'n verskil wil maak deur nie net vir mense met gestremdhede nie, maar vir almal 'n inklusiewe en transformatiewe ruimte te wil skep. Ons moedig studente aan om dít wat hulle in die kursus leer, in hulle omgewing of hulle loopbaan toe te pas. Tradisioneel is die behoeftes van mense met gestremdhede nie in ag geneem in die ontwerp van ruimtes soos lesingskamers nie. Mense met gestremdhede ondervind dikwels hindernisse ten opsigte van ruimtes, toerusting, vervoer, asook kommunikasie wanneer hulle dienste op kampus wil benut.
“Indien 'n kursusganger byvoorbeeld ingenieurswese studeer, sal hulle 'n beter begrip kry van hoe om geboue toeganklik te maak vir iemand in 'n rolstoel en waarom dit belangrik is om spesifieke afmetings te gebruik. Die implementering daarvan vergemaklik toegang."
Nicholas beklemtoon dat die kursus nie net op mense met fisiese gestremdhede gemik is nie. “Daar is 'n aansienlike aantal studente en personeel wat een of ander soort belemmering het. Afgesien van fisieke gestremdhede, sluit mense met gestremdhede diegene in wat 'n geestelike, intellektuele of sensoriese belemmering het en weens verskeie hindernisse verhoed kan word om ten volle en doeltreffend op 'n gelyke grondslag aan die samelewing deel te neem."
Die Lei met Gestremdheid-kursus moedig deelnemers aan om na te dink oor die manier waarop gestremdheid in die media en populêre kultuur uitgebeeld word en hoe en waarom stigmas voortduur. Nicholas sê elkeen met 'n gestremdheid se reis verskil, maar ons kan gesamentlik meer doen om mense met gestremdhede se lewe te vergemaklik. “Die insluiting van mense met gestremdhede is nie net die Eenheid vir Gestremdhede se verantwoordelikheid nie. Dit is die hele Universiteitsgemeenskap s'n.
- Registrasie vir die tweede semester se Lei met Gestremdheid-kursus sluit 30 Julie. Tree met Nicholas in verbinding ([email protected] / [email protected]) vir meer inligting.
- Skakel om aanlyn te registreer: https://forms.office.com/Pages/ResponsePage.aspx?id=Azv6pjwKWEKEM6Eg3_zTSMJD9QD5pQ1DknGXsu2EkplUOTAzVlRGOEMyQ1hXQTJKREIwWEJOVVNYRS4u
FOTO: Kursusaanbieders Luigia Nicholas, Lizelle Apollis en Haiku. (Foto deur Stefan Els geneem.)