Skip to main content
MMed-graad ʼn triomf oor teëspoed vir jong moeder

MMed-graad ʼn triomf oor teëspoed vir jong moeder

FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
04 April 2022

Toe dr Sade Hendricks (35) haar MMed-graad in Anestesiologie ontvang het, was dit nie net ʼn groot loopbaandoelwit wat sy behaal nie, maar ook ʼn triomf oor ware teëspoed.

Slegs weke voordat sy haar finale eksamen geskryf het, het Hendricks, wat oorspronklik van Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) kom, haar lewensmaat en die vader van haar dogter, Byron Wyngard, in Mei verlede jaar aan Covid-19 afgestaan.

Ondanks sy as ʼn enkelmoeder agtergelaat is, het sy in Julie haar eksamen geskryf, en is sy daarna genooi om haar mondelinge eksamen af te lê, wat sy ook geslaag het.

Professor Sean Chetty, hoof van die Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg, het Hendricks geloof vir haar veerkragtigheid en dat sy steeds kon uitblink in haar studies, ondanks haar tragiese situasie.

Nieteenstaande sy haar geskrewe en mondelinge eksamens geslaag het, moes Hendricks vinning haar MMed navorsing herkalibreer wat in duie gestort het weens die pandemie. Te midde haar beproewing het sy met ʼn nuwe projek begin, haar graad voltooi en as ʼn spesialis geregistreer.

“Ondanks al die hindernisse in haar pad, het dr Hendricks volgehou. Sy is ʼn ware inspirasie vir ander jong vroue in soortgelyke situasies," het Chetty gesê.

Met die toekenning van haar graad, was Hendricks toegejuig deur haar ouers, Carol en Vernon Hendricks, wat vir haar en haar twee en ʼn half jarige dogter Isabella (Bella) heelhartig ondersteun het.

Sy is die jongste van drie susters, is gebore en het skool gegaan in Gqeberha, en het medies aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Sy het haar gemeenskapsdiens by ʼn klein hospitaal in Kariega (voorheen Uitenhage) in die Oos-Kaap gedoen, waar sy ervaring in anestesiologie opgedoen het.

Sy het besluit om in anestesiologie te spesialiseer, en het in 2017 as ʼn kliniese assistent by die Tygerberg-hospitaal begin.

In 2018, terwyl sy by Tygerberg gewerk het, het sy vir Wyngard ontmoet. Hy was in Kaapstad nadat hy streekskrieket in Engeland gespeel het. “Hy het krieket afgerig en gespeel by ʼn plaaslike klub voordat hy Engeland toe gegaan het. Hy moes terugkeer Engeland toe, maar toe tref Covid-19."

Hendricks het in 2019 swanger geraak en Isabella was in Oktober daardie jaar gebore. Sy en Wyngard het saam gewoon in Plattekloof en hy het tuis gebly saam met Isabella terwyl Hendricks gewerk het.

In Mei 2021 het Hendricks, Wyngard, en hulle dogter Isabella Covid-19 opgedoen, en Wyngard is by die hospitaal opgeneem. “Hy is op Moedersdag (Sondag 9 Mei) opgeneem, en is op 25 Mei oorgeskuif na die intensiewe sorgeenheid. Sy toestand het in daardie week verswak.

​“Ek het h​om die Maandag besoek en vir hom ʼn video gespeel van Isabella, asook stem opnames van vriende en familie. Die Woensdag het sy toestand verswak en op die Donderdag is hy dood. Hy was maar net 32." 

Hendricks beskryf Wyngard as ʼn “sportiewe, sosiale" persoon. “Hy was dol daaroor om uit te gaan, te braai en kos te maak. Hy was baie lief vir sy dogtertjie."

Hy het vier weke voor Hendricks se finale eksamen gesterf. “My ma het alles gelos en by ons in Plattekloof kom bly toe hy siek geword het. Sy het uiteindelik vir sewe maande gebly. Sodra ek en Bella uit isolasie gekom het, het my pa ook by ons aangesluit. Na Byron se dood het ek besef dat ek geen ander opsie het as om voort te gaan en te werk nie. Ek het bitter hard gewerk vir omtrent twee jaar, en het naweke en my sosiale lewe opgeoffer. Ek het ʼn jong kind gehad om aan te dink. Ek kon dit nie als opgee nie."

Hendricks het die uitslae van geskrewe eksamen ontvang, en ʼn paar maande later, het sy ook haar mondelinge eksamen geslaag. Toe kom die volgende uitdaging: “Voordat ek in 2019 met kraamverlof gegaan het, het ek etiese goedkeuring ontvang vir ʼn groot projek vir my MMed-navorsingsprojek wat verband gehou het met gekose chirurgie in kinders. Maar weens Covid-19 kon ek geen data insamel van pasiënte nie. Dus het my MMed-navorsingsprojek tot stilstand gekom en moes ek van voor af begin.

“Professor Chetty het my gehelp om met ʼn ander idee vorendag te kom – om pyn-assessering in intensiewe sorgeenhede te bestudeer – en ek kon die werk doen en dit inhandig. Sy ondersteuning as ʼn mentor en ʼn vriend was ongelooflik."

Hendricks het gesê sodra die ergste spanning van haar eksamen oor was, het die intensiteit van haar beproewing haar eers getref. “Ek moes ʼn week of wat af vat. Die departement was baie ondersteunend," het sy gesê, en bygevoeg dat sy ook hulp van ʼn uitstekende terapeut ontvang het.

Hendricks, wat intussen terug getrek het Gqeberha toe, werk tans in die intensiewe sorgeenheid by die Livingstone-hospitaal, en sy geniet haar werk baie. “Ek het ʼn huis gekoop en dit is wonderlik om naby die familie te wees."

Na alles wat sy deurgegaan het, wil Hendricks tot die samelewing bydra deur haar werk. “Ek is toegewy aan onderrig en die opleiding van jong dokters, en ek wil betrokke raak by die anestesiologie opleidingsprogram in die Oos-Kaap, en al die ervaring wat ek in Tygerberg opgedoen het gebruik om hulle opleiding te verbeter," het sy gesê.