
‘Mislukking van SA se grondwetlike transformatiewe agenda nie regbank se skuld nie’ – regter Dunstan Mlambo
Dit sal verkeerd wees om ons howe en regters vir die gebrek aan maatskaplike en ekonomiese transformasie in Suid-Afrika te blameer.
Dít was een van die sienings van die Gautengse regterpresident, Dunstan Mlambo, wat Donderdag, 24 Maart 2022 die 16de Jaarlikse Menseregte-lesing in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Regsgeleerdheid gelewer het. Die lesing, getiteld Transformative Social Change and the Role of the Judge in Post-Apartheid South Africa, is deur die bekleër van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregte, prof Sandy Liebenberg, en die Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, prof Nicola Smit, gereël.
Regter Mlambo het in sy toespraak gesê dit is onsinnig om die skuld te probeer soek by wat die howe deur die Grondwet beveel word. Hy het bygevoeg dat die mislukking van ons grondwetlike transformatiewe agenda nie die regbank se skuld is nie.
“'n Mens soek verniet na beleide en ander transformatiewe probleme wat deur die howe gedwarsboom is. Al wat die howe gedoen het, is om gebreke in beleide uit te lig wat voor hulle gedien het en het dit dan terugverwys vir verbetering in ooreenstemming met grondwetlike voorskrifte."
Volgens Mlambo lê die tekortkominge van ons transformatiewe agenda elders in ons raamwerk van grondwetlike staatsbestuur.
Hy het hierdie opmerkings gemaak in die lig van onlangse aanvalle op die regbank.
“Daar is tans temas wat te kenne wil gee dat ons Grondwet 'n mislukking is omdat dit nie tot beter lewensomstandighede vir die arm massas gelei het nie; daar is temas wat aan die hand doen dat regters en howe 'n “juristokrasie" geword het wat die sosio-ekonomiese ontwikkeling van die arm massas belemmer; dan is nog ander temas wat te kenne gee dat howe en regters, wat nie verkies word nie, te magtig geword het en in toom gehou moet word, en dat Suid-Afrika beter sal vaar onder 'n raamwerk van parlementêre oppergesag."

“Dit is hoofsaaklik party-politieke lede, lede van die parlement, uitvoerende lede in die verskillende sfere van regering wat hierdie temas propageer en wat openlik die mag van regters en howe afkeur," het Mlambo bygevoeg.
Hy het gesê die verskillende sfere van regering moet goed funksioneer vir die Grondwet om sy belofte gestand te doen.
“Vir maatskaplike en ekonomiese transformasie, insluitende groei wat maatskaplike en ekonomiese gelykheid en ontwikkeling meebring, moet die staat as die pligsdraer regte-ingeligte wetgewing en beleide oor maatskaplike geregtigheid aanvaar wat 'n patroon van verspreiding met 'n fokus op die armes volg. Die staat moet ook die beskikbaarheid van finansiële en menslike hulpbronne verseker vir die inwerkingstelling van sulke beleide."
“Howe en regters is maar een van die drie arms van regering en hou die ander by die grense van hul magsvoorskrifte."
Mlambo het gesê dat indien ons ons land se ontwikkelingsprobleme wil oplos, moet ons na ons grondwetlike beginsels en wat gelewer kan word, kyk.
“Ons Grondwet is op menseregte gegrond; dit kyk vorentoe en rus ons met ontwikkelingsinstrumente toe om die grondwetlike projek te bevorder. Dit betaam ons almal, nie net ons howe en regters nie, om dit te besef. Ons moet almal besef dat politieke vyandigheid jeens die howe en regters mettertyd die howe ongeldig sal maak. Dit sal die doodskoot beteken vir ons grondwetlike transformatiewe projek as 'n land."
Hooffoto: Regter Dunstan Mlambo lewer die Menseregte-lesing. Foto 1: Prof Sandy Liebenberg (HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregte), regter Dunstan Mlambo, prof Nicola Smit (Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid) en prof Nico Koopman (Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel) by die geleentheid.