
Militêre Akademie verwelkom nuwelinge
Die Militêre Akademie in Saldanha het op 25 Januarie 2017 talle nuwelinge met 'n parade in hul geledere verwelkom. Die parade is gevolg deur die amptelike openingseremonie van die Akademie.
Die parade was gelei deur die Wes-Kaapse Weermag Orkes. Foto: Engela Meintjies.
Luitenant-generaal Norman Yengeni en verskeie hooggeplaasde beamptes van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) het die parade bygewoon. Die Kommandant, brigadier-generaal Lawrence Mbatha, het die nuwelinge verwelkom. Hy het hulle verder herinner dat hul hier is om te leer en uiteindelik denkleiers te wees wat ingeligte besluite in hul loopbane kan maak.
Hy het ook die US bedank vir hul besonderse vennootskap met die Akademie, wat verseker dat die Akademie 'n hooggeagte instelling in die land bly en erken word as een van die top Militêre instellings in die wêreld.
Elke leerder het ook die Militêre Akademie se erekode ontvang om as riglyn te dien terwyl hul studeer.
Professor Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies van die US was die gasspreker by die Akademiese opening.
"Goeie leiers moet ook empatie hê en vir hul mense omgee, hul moet die mense wat hul lei dien deur van hul voorregte op te offer en laastens moet hul respek hê. By hierdie universiteit is dit deel van ons pligte om denkleiers op te lei, met die klem op denkvermoë," sê Cloete.
Hy het studente aangemoedig om alles te bevraagteken om hul intellek te stimuleer.
"Om jou doelwitte te bereik is nie al wat belangrik is in die lewe nie. Deur ander mense te help om ook hul doelwitte te bereik, sal jy jouself merkwaardig maak," het prof Cloete bygevoeg.
Die Militêre Akademie het die klas van 2017 sukses en voorspoed met hul studies toegewens.