
Mikrobioloog as lid van Ministeriële Advieskomitee aangestel
Prof Andrew Whitelaw is onlangs aangestel as lid van die Ministeriële Advieskomitee (MAK) insake Antimikrobiese Weerstand, wat ʼn raadgewende rol sal speel oor die implementering en monitering van strategieë soos uiteengesit in die Departement van Gesondheid (DvG) se Nasionale Strategiese Raamwerk.
Whitelaw, Hoof van die Afdeling Geneeskundige Mikrobiologie aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch, het verduidelik dat die probleem van antimikrobiese weerstand oor die afgelope paar jaar wêreldwyd aandag geniet.
Die verskyning van hospitaalverworwe organismes met ʼn algehele weerstand teen beskikbare antibiotika het die afgelope paar jaar gelei tot toenemende bewustheid van die erns van die probleem. Dit sluit in dat ons onsself in ʼn situasie sal bevind soortgelyk aan die tyd voor antibiotika, wat beteken dat sommige bakteriële infeksies nie langer behandelbaar sal wees nie," het hy gesê.
Die World Health Assembly (Wêreldgesondheidsbyeenkoms) het ʼn globale aksieplan aanvaar wat in 2014 deur die Wêreldgesondheidsorganisasie voorgestel is. Dié plan verwag van ledestate om nasionale strategieë te ontwikkel wat die probleem sal aanspreek. Die Suid-Afrikaanse Antibiotika-bestuursprogram het, in samewerking met die DvG, die Nasionale Strategiese Raamwerk vir Antimikrobiese Weerstand in 2014 van stapel gestuur.
Die MAK moet raad gee oor strategieë, insluitend dié wat verband hou met die institusionalisering van beheermaatreëls oor antibiotika; die verbetering van infeksievoorkoming en -beheer; onderrig en opleiding van gesondheidsorgpraktisyns; gemeenskapsondersteuning en -bewusmaking; gebruik van antimikrobiese middels in die landbou; gebruik van nuwe diagnostiese toetse; en navorsing oor en monitering van weerstandigheid en die gebruik van antimikrobiese opsies.
Whitelaw is al vir ʼn paar jaar by navorsing oor antibiotika betrokke en bestudeer weerstandsmeganismes, die epidemiologie en die verspreiding van weerstandige infeksies, asook infeksiebeheer. Hy is betrokke by die provinsiale Antimikrobiese-beheerprogram en het in die verlede op institusionele en provinsiale liggame vir infeksiebeheer en -kontrole gedien.