Skip to main content
Maties skryf: Op pad huis toe ten tyde van COVID-19

Maties skryf: Op pad huis toe ten tyde van COVID-19

Transformation Office
30 April 2020

Die Universiteit Stellenbosch se Transformasiekantoor het onlangs die universiteitsgemeenskap gevra om hul persoonlike ervarings van #LockdownSA met ons te deel. Babalwa Gusha is die programkoördineerder in die Transformasiekantoor en sy moes die moeilike besluit neem of sy na haar gesin in 'n ander provinsie sou gaan of nie. Haar skrywe volg hiernaas:  Ek moet erken dat toe president Ramaphosa op die aand van 23 Maart 2020 die nasionale inperking aankondig, ek nog nie die erns van die pandemie besef het nie. Alhoewel ek en my kollega die oggend van die aankondiging by 'n ongewoon leë restaurant in Ryneveldstraat 'n ontbytvergadering gehad het, het my gedagtes in daardie stadium nog nie op 'n dag‑tot‑dag‑grondslag met die implikasies van die nuwe coronavirus en die lewe vorentoe geworstel nie. Ons kelner het tussen besoeke aan ons tafel deur vertel 'n hele paar kollegas is aangesê om nie werk toe te kom nie vanweë die lae kliëntgetalle. Die restaurantbestuur was van plan om die bedrywighede heeltemal te staak en was besig om hulle op 'n logistieke en finansiële nagmerrie voor te berei.Toe my lynbestuurder my inlig dat ons van die huis af sou werk, het ek begin planne beraam om huis toe te gaan om die grendeltyd saam met my gesin in die Oos-Kaap deur te bring. Ek kon aan niks erger dink as om 700 km van my huis af in selfisolasie te sit nie. Ek sou nie 21 dae lank my suster se woord daarvoor kon neem dat hulle goed vir hulself en vir my ma sorg nie. Ek het grootgeword tussen hierdie mense en te oordeel aan die stryery oor skottelgoed was, kosmaak en opruim, het ek besef hulle het my nodig vir hul oorlewing.Alhoewel ek gewoonlik die “Kolonie" (Stellenbosch) in die vroeë oggendure verlaat wanneer ek Grahamstad in die Oos-Kaap toe ry, het ek dié keer verslaap en eers ná 06:00 weggekom. As ek terugdink, besef ek dat ek nie die menslike interaksies op die tuinroete in die aanloop tot die inperking sou kon ervaar het indien ek vertrek het op die tyd wat ek aanvanklik beplan het nie. Soos menige versigtige alleenloper‑bestuurders wat laas 'n voorritinspeksie op die dag van hul bestuurderstoets uitgevoer het, is ek na my gewone garage om my banddruk, water en olie, ensovoorts, te laat nagaan. Ek woon net so bietjie langer as twee jaar in die omgewing en ken die meeste van die personeel wat daar werk, party van hulle is ook van my kontrei. Dit was eers toe ek met die petroljoggie gesels het dat die kwessie van my posisionaliteit tot my deurgedring het. Xolani het my geterg oor hoekom ek so vroeg op was en gevra, “Uvelaphi nah wethu ngentseni?" asof ek skelm op pad terug was van 'n volwasse oorslaap êrens. Nadat ons die grap afgelag het, het ek vir hom gesê ek is op pad huis toe. Die gesprek wat ek en Xolani gehad het, het baie ongemaklike waarhede vir my tuis gebring oor my posisie en die voorregte wat ek as gevolg daarvan geniet. Dat ek dit kon bekostig om huis toe te gaan, dat ek 'n huis het waarheen ek wel wou teruggaan, en dat ek dankbaar behoort te wees vir die oënskynlik onbeduidende seëninge waarvan ek vergeet wanneer ek dink my lewe kan beter wees. Xolani het my besluit beïnvloed om petroljoggies langs die pad ruim fooitjies te gee. Ek het bewus geraak daarvan dat die garagepersoneel oor die grendeltyd noodsaaklike werkers is en aan diens sou moes bly. Dat die aantal motoriste wat kom brandstof ingooi vanweë reisbeperkings en tuiswerkery minder raak en dat dit 'n rimpeleffek het vir petroljoggies en die bedrag wat hul aan fooitjies verdien om hul karige inkomste mee aan te vul.So het ek die Wes-Kaap verlaat 'n dag voor die nasionale inperking ingestel is. Die rit met die tuinroete langs was so lieflik soos altyd, maar nou was die atmosfeer in die dorpe op my pad byna somber en onseker – afgewissel met afwysende grappies en opmerkings soos “ons sal meer sien" van die petroljoggie wat my in Knysna gehelp het, en bevestig deur die vroue met wie ek gesels het in die openbare geriewe op die Stormsrivierpas. Ek was aangenaam verras om die voordele te ontdek van alleenloperwees in 'n pandemie toe ek by die tolgrens tussen die Oos- en Wes-Kaap reg van weg gegee is uit 'n lang ry voertuie wagtend op sifting vir moontlike blootstelling aan die virus, omdat ek geen passasiers in die motor gehad het nie.Natuurlik moes ek by die Nanaga-plaasstal, die beste plaasstal in die land, aandoen. Geen rit huis toe is volledig sonder om by hierdie provinsiale gunsteling stil te hou nie. Dit was middagete toe ek die stilhouplek bereik het, maar die aantal besoekers kon nie meer as 15 gewees het nie, 'n treurige opkoms vir hierdie Oos-Kaapse juweel. Daar was 'n ouer man wat die gekgeskeer het en gemaak het of hy onbeheerd hard wil nies, en almal hul daarin verkneukel en onderlangs gemompel terwyl hulle hul keuse van die beste pasteie, 'n heerlike verskeidenheid biltong, boetiekdrankies en ander genietinge gemaak het. COVID‑19 was steeds 'n kwessie ongeveer 80 km van die huis af, maar dit was duidelik dat alhoewel ons daaroor grappies maak, baie mense nie kanse waag nie. Wat ek kon aflei deur skelm na gesprekke in die gange en in die tou by die betaalpunt te luister, was dat byna almal op pad was om by hul gesin te wees tydens die inperking. Die meeste het by die plaasstalletjie stilgehou om voorraad vir die res van die tog, of in selfisolasie, te geniet.Toe ek en my suster uiteindelik by ons plaaslike Pick n Pay stilhou om noodsaaklikhede aan te vul, het ons en ons WC-nommerplaat soos seer duime uitgesteek en daar was vraende kyke oor waarom op aarde ons hierdie virus saam gebring het om die hele dorp mee te besmet. Ons het ou vriende raakgeloop terwyl ons in die ry wag en op 'n afstand hard en geanimeerd gesels oor hoe 'n groot risiko ek was en woorde soos “julle mense" is aan my toegedig. Thoko en Sylvester het gesorg dat die mense by wie ek in die tou agtergebly het om by die winkel in te gaan, lugtig was vir my en ek moes my besluit om huis te kom aan 'n lang ry mense regverdig, terwyl my twee vriende laggend weggery het.In my persoonlike interaksie met die mense op my tuisdorp het ek die gevoel gekry dat ons maklike teikens is, oorgelaat aan die genade van diegene wat meen ons verkies om die voorskrifte te ignoreer deur van 'n groot stad na die Oos-Kaap te reis en moontlik die virus met ons saam te bring – dat mense soos ek selfsugtig is. In dieselfde asem verstaan diegene wat ingelig is oor COVID‑19, wat met die verloop en gevolge daarvan vir individue en die kollektiewe geheel vertroud is, die behoefte om in hierdie tyd by geliefdes te wees. Om by die lewe in isolasie binne die gesin aan te pas verdien 'n eie refleksie‑artikel, want nou leer ek heelwat oor my gesin, oor hul persoonlikheidsneigings en gewoontes, en oor myself. In hierdie tyd word ek gevul met enorme dankbaarheid teenoor my ma, vir die tuiste wat sy vir my en my susters geskep het. Hierdie ruimte wat vir my 'n soort toevlug geword het, waar ek my wonde kan lek en kan besin oor wat belangrik is, en wat my bydrae is in die ruimtes gewy aan nuwe denkwyses in die nagevolge van hierdie pandemie.In retrospeksie is ek bly dat ek huis toe gekom het. Ek sou dit sonder twyfel weer so doen.